Kaïro – Regters wat deur Hosni Mubarak aangestel is het Egipte se hoofsaaklik Islamitiese parlement ontbind en boonop beslis dat die laaste premier wat Mubarak destyds aangestel het, wel aan die presidentsverkiesing in die land kan deelneem.
Donderdag se uitspraak word beskou as 'n groot slag vir die fundamentalistiese Moslem-broederbond, en minstens een senior lid het dié uitspraak as 'n "volskaalse staatsgreep" beskryf.
Die hof het beslis dat Ahmed Shafiq, die laaste premier wat gedien het onder Hosni Mubarak, voormalige president van Egipte, wel aan die land se presidentsverkiesing kan deelneem.
'n Paar honderd mense het ná die uitspraak op Tahrir-plein in Kaïro saamgedrom om teen die beslissing te betoog, en om hulle ongelukkigheid duidelik te maak oor Shafiq, wat deur baie burgers gesien word as 'n simbool van Mubarak se outokratiese heerskappy.
Mohammed Morsi van die Moslem-broederbond, wat Saterdag teen Shafiq te staan sal kom in die land se presidentsverkiesing, het gesê hy is ongelukkig oor die uitspraak, maar aanvaar dit.
"Dis my plig as die toekomstige president van Egipte, as God wil, om staatsowerhede se onafhanklikheid te erken en die uitspraak te aanvaar," het Morsi, 'n ingenieur wat in die VSA opgelei is, in 'n televisie-onderhoud gesê.
Hy het laat Donderdag in 'n nuuskonferensie gesê: "Miljoene sal Saterdag en Sondag na die stembusse stroom om 'nee' te sê vir dié tiranne.
'n Verkiesing sal ook gehou moet word om weer 'n nuwe parlement te kies. Die vorige parlementêre verkiesing is oor 'n tydperk van drie maande vanaf November 2011 gehou.
– Volg Nuus24 op
Twitter.
SAPA