“Ek reis en dan is die boeke aan die einde van die dag maar ‘n byproduk. Al my stories is in elk geval maar net ‘n klomp kortverhale wat uit my joernaal kom.”
Hy het eintlik begin skryf omdat hy gereeld ná sy reise gevra is om ‘n storie of twee daarvan te vertel.
“Ek is nie ‘n storieverteller nie. Nie dat ek nie om ‘n kampvuur ‘n storie kan vertel nie, maar ek is eerstens ‘n reisiger en dán skryf ek die storie neer.”
Hy het ‘n getroue reisgenoot in Pop Bakkes, ‘n mannekyn wat hy in Ceres se Foshini teëgekom het.
Pop lyk nogal intimiderend waar sy by sy kroeg staan met haar weermaguitrusting – maar Johan sê as hulle reis neem sy nie die gewere en staalhelm waarin sy tans uitgedos is, saam nie.
“Dis ‘n Kubaanse staalhelm wat uit die grensoorlog kom en die uniform wat sy dra is ‘n FAPLA-uniform wat ook van die grensoorlog afkomstig is,” spog hy.
Terwyl ons ‘n koffie in sy kroeg geniet (dis te vroeg in die dag vir ‘n glasie wyn, verduidelik hy), vertel hy meer oor homself.
Is daar enige plek in die wêreld waar jy nog nié was nie?
Jinne. Die wêreld is te groot vir een leeftyd. Aan die einde van die dag is daar soveel plekke wat ek nooit sal kan beleef nie.
Waar is die eienaardigste plek waar jy jou al bevind het?
Ek sal jou sê, die plek wat vir my nou regtig weird was, is ‘n plek met die naam van Varanasi in Indië. Daar by die ghats waar hulle mense veras en die as in die rivier gooi. En nie net dit nie: daar word huwelikseremonies voltrek en tien teen een word kinders daar gedoop ook. Dis ‘n morsige besigheid, wat my betref. Maar dis ‘n ander kultuur so ek kan nie die kultuur veroordeel nie.
Watter plekke sal jy nooit weer wil besoek nie?
Dis nie ‘n vraag wat ek kan beantwoord nie. Daar is nie regtig tyd om twee keer by plekke uit te kom nie. Verseker sal ek nie weer Indië toe gaan nie, maar tyd heel ook. So aan die einde van die dag, hoekom nie? Vat Namibië. Ek sal elke jaar ‘n draai daar gaan maak. So sekere plekke het net eenvoudig ‘n aantrekking vir meer en meer gaan.
Is daar ‘n plek in Suid-Afrika waar jy nog nooit was nie?
Dis moeilik. Verseker is daar paaie wat ek nog nie gery het nie. My een groot lekkerte is om paaie bymekaar te maak. Waar ander mense teelepeltjies en posseëls bymekaar maak, maak ek paaie bymekaar. Ek hou van grondpad ry. Daar is nie ‘n pad in die Karoo wat ek nog nie gery het nie.
Hoe lank reis jy al?
Ek het groot geword met die reiskonsep. Ek kom van Saldanha af, wat hier teen die kus sit en my pa was by die militêre akademie. So van kleintyd af het hy ons blootgestel aan die natuur en dan gaan kamp ons en stap in die Cederberge. My ma het my gedwing om te lees en dan lees jy plekke raak. Jy lees van Kartoem en Casablanca en Kolkota en dan weet jy Saldanhabaai is nie die enigste plek in die wêreld nie.
‘n Mens lees nooit dat jy na plekke soos Parys of New York toe gaan nie. Kies jy juis die plekke waarheen die gemiddelde toeris nie gaan nie?
Ek geniet dit baie om navorsing oor plekke te doen waarheen min mense gaan. So as ek na plekke toe gaan, vra ek en my reisgenote altyd die gidse om ons na die plekke toe te vat waarheen geen westerse mense gaan nie. Ons probeer maar die snaakse plekke uitsnuffel.
Mense sukkel om Johan Bakkes die reisiger en Johan Bakkes die professor met mekaar te versoen. Hoe balanseer jy dié twee aspekte van jou lewe met mekaar?
Ek het grootgeword met die idee dat jy ‘n kwalifikasie móét hê. Jy moet daai back-up hê, het my pa altyd gesê. Toe het ek maar gaan leer. ‘n Hoogsbetaalde professie daardie tyd was om ‘n rekenmeester te wees en toe word ek ene. Maar ek het nie kans gesien vir die lang werksure wat dit van my sou eis nie. Jy maak ‘n klomp geld maar jy het nie tyd om die geld te geniet nie.
My groot liefde lê by reis. Toe besluit ek by ‘n universiteit gee dit vir my groter geleentheid en meer tyd. Daar is miskien nie so baie geld nie, maar daar is meer tyd om te reis.
Het jy bewustelik die besluit geneem om te begin skryf of het dit natuurlik gevolg omdat jou ma en een van jou broers ook skryf?
My ma het die liefde vir boeke en lees by ons verwek. Sy het ons altyd gedwing om te lees. Maar daar was geen manier wat ek gedink het ek sal ‘n skrywer wees nie. Ek het glad nie daarin belanggestel nie. Daar is nou al ‘n ma en ‘n broer in die gesin wat skryf, en ek wou nie een van die "Brontë-susters" word nie. Dis hoekom dit op 42-jarige ouderdom regtig eers met my gebeur het.
Sal jy ooit ophou reis?
Ek dink nie ek sal ooit verveeld raak met reis nie. Maar moet nie ‘n fout maak nie, dis altyd lekker om weer huis toe te kom. As jy vir lank op reis was en nie kon bad nie en nie lekker slaapplek kon kry nie, is dit altyd lekker om net weer by die huis te kom asem skep.
Jou armbande is een van jou grootste kenmerke. Haal jy dit ooit af?
Nee, nie regtig nie. Ek versamel die goed, maar net uit Afrika uit. En dan kom ek by die sekuriteitshekke by lughawens dan kan ek dit nie afhaal nie en dit veroorsaak partykeer probleme. Ek sê dan maar net dat dit my geloof is en gooi my hande in die lug dat hulle my maar bevoel en betas.
Wat behels ‘n avontuur?
Ongerief sorg dat daar avontuur is. Die oomblik as dit swaar gaan en dinge loop skeef raak dit ‘n avontuur, want dan moet jy op jou voete dink. As daar ‘n boggherop is en jy kom aan die anderkant uit, het jy ‘n storie om te vertel.
Wat is die een ding wat jy altyd saamneem op ‘n reis?
Ek sal nooit sonder drank gaan nie. As ek weet ‘n plek het nie ‘n watergat nie, sal ek nie sommer soontoe gaan nie. Dit is dan ‘n groot teleurstelling en ek vermy sulke dorpe...
Gaan ons gou weer ‘n nuwe Johan Bakkes-boek op die rakke sien?
Ja, hier in Oktobermaand kom daar weer ‘n boek. Die titel van die boek gaan Oepse Daisy wees. Dit is ‘n klompie kortverhale wat voorheen al gepubliseer is. Dit word dan saamgevat in die bundel met so drie of vier nuwe verhale by. Dit gaan weer oor reis maar nie net oor hoe om daar uit te kom en wat om daar te maak nie, maar ook oor die filosofie van reis. Soos my gewone stories...
– Kliek hier vir meer oor Johan Bakkes.
– Volg Nuus24 op Twitter.