Nuus24 WEBWERWE/DIENSTE >

'n Kunswerk vol foute... maar tog perfek

Deur: Bouwer Bosch 2012-08-13 08:06
Ons lewe in 'n wêreld waar jy binne sekondes enigiets kan soek of uitvind op die internet.

Jy kan jou gunstelingliedjie, -foto, -quote, of -video binne minute opspoor – sommer van jou foon af terwyl jy in spitsverkeer sit. Die maklike bekombaarheid van "kuns" (musiek, video's, foto's ens.) maak dat jou genieting daarvan só vinnig verbyskiet dat dit 'n mens eintlik honger en dors maak vir meer. Omdat die meerderheid van die materiaal wat gewild is nie regtig bestanddele bevat wat die siel voed nie, bly 'n mens "leeg" en op soek na meer en beter.

Dit maak vir my die soeke na iets meer en beter op 'n manier eintlik vervelig omdat jy enigiets so maklik kan opspoor. Ons kan gouer kry wat ons wil hê, en dan is dit verby, pleks daarvan om op 'n soektog te gaan en iets te kry wat werklik 'n impak op jou lewe en jou hart het. 

Persoonlik het ek al op menige soektog gegaan om musiek of foto's te kry wat my lewe gaan verander, en telkemale het ek op iets afgekom wat my inspireer of my help dink – maar nog nie een keer het ek iets gekry wat my lewe verander het nie. 

Dit het my laat besef dat ons in 'n tyd lewe waar ons meer behep en geïnteresseerd is met die kunstenaar as in dit wat hy geskep het. As jy kyk na Twitter en Facebook sal jy sien 'n mens volg die kunstenaars pleks van hulle "kuns". Ons stel meer belang in die feit dat Lady Gaga nuwe skoene gaan koop as wat ons belangstel in haar nuwe radio-treffer. Dit voel vir my asof ons meer belangstel in die hart agter die kuns as wat ons belangstel in die tegniek waarmee dit gedoen is. Dus dink ek kuns kan nie meer persoonlik raak as wat dit is nie – maar dat die kunstenaar kan kies om meer eerlik te wees.

Dit is vir my baie moeilik om te "relate" met musiek of kuns wat té goed is. Wat té perfek is. Omdat ek 'n gebroke mens met baie foute is, is ek maar altyd op soek na kuns wat ook gebroke is; kuns waar die kunstenaar erken wat hy gemaak het is nie perfek nie; kuns waar die kunstenaar nie bang is om iets van homself weg te gee nie.

Ná die "Batman-skietery" het Christian Bale vir die oorlewendes gaan kuier, en hy het uiteraard nie sy Batman-pakkie aangehad nie. Hy was homself. Ek dink die feit dat hy by hulle gaan kuier het as homself het meer waarde, en het meer beteken vir daardie mense en die vermaakwêreld, as wat Batman met al die rekords wat hy laat spat ooit kon hoop om te doen. Daar is net iets eg daaraan om jouself te wees en om nie 'n masker op te sit wanneer dit by jou kuns kom nie.

Ek dink wat ons nie regtig besef nie is dat ons almal 'n kunstenaar is. Ons almal skryf dieselfde liedjies, ons sing dit net anders. Ek gebruik woorde en musiek, jy gebruik syfers of dalk 'n stetoskoop. Ons almal het "fans" wat na ons werk (ons lewe) kyk en kommentaar lewer en kritiek of inspirasie daaruit put. Dit is jou besluit of jy 'n goeie of 'n slegte kunstenaar wil wees. Die manier hoe jy lewe, is die manier hoe jy jou kuns skep.

Daar sal nie 'n catchier liedjie in hierdie wêreld wees as die manier hoe jy jou lewe leef nie. Daar sal nie 'n kunswerk meer omstrede of asemrowend wees as die manier hoe jy jou lewe leef nie. Daar sal nie 'n rolprent in hierdie leeftyd meer emosioneel of met meer magiese oomblike wees as die manier hoe jy jou lewe leef nie.

Ons is die skrywers, sangers, akteurs, regisseurs, skilders en redigeerders van hierdie groot kunswerk waarin ons onsself vind. 

Ons moet net nooit vergeet dat ons ook maar net 'n kunswerk is wat geskep is nie, en ek kan nie wag om die Skepper te ontmoet wat my gemaak het nie. Ek kan nie wag om te gesels oor die plekke waar ek nie perfek is nie en om te hoor hoekom hy besluit het om my die manier te skets en in te kleur soos ek is. 

Vol foute, maar tog so perfek... nes jy.

– Bouwer is 'n liedjieskrywer en musikant, en het bekendheid verwerf met die treffergroep Straatligkinders. Jy kan sy aanlyn-tuiste besoek by http://www.bouwerbosch.co.za/, jy kan hom hier volg op Twitter, of na sy video's kyk op sy YouTube-kanaal.

Stuur jou kommentaar aan Bouwer

Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.


 
Ad:Retirement Plan from R150/m (RSA Residents Only)
«Terug
Ad:Family Funeral Plan from R36/m (SA residents only)