Share

Hanlie gesels met Marié Heese

Wys jou net: moer-strip hét sy voordele.

“Ek skryf en praat al jare oor die taalkwessie op Maties, altyd besadigd, mét argumente en navorsingsgegewens, maar niemand het ooit notisie geneem nie.”

Maar toe dr. Marié Heese in hul aftreehuis in Stilbaai prof. Pierre de Vos (grondwetkenner van die UK) se dwarsklappe aan Maties se ‘stompsinnige taalbulle’ op die internet lees, raak hierdie ouma die bliksem in en gaan pen ‘n bazooka van ‘n kommentaar neer in laasweek se Rapport (‘Ouma Heese ‘strip’ haar moer’).

En so warempelwaar: nog nooit in haar lang loopbaan as akademikus het sy soveel positiewe reaksie gekry nie. En die kritiek? Sy skouerophaal dit weg met: “Wel, ‘n kat skreeu as sy stert vasgetrap word.”

Nou wát het die ouma so ontstig?

Sy’s immers beter bekend vir haar humor as haar humeur, dié (oud) US-raadslid met ‘n nugter, wye blik op die taalstryd – die bifokale blik, om DJ Opperman nader te sleep. Dié ‘classy lady’ vir wie Jannie Mouton in ‘n US-raadsvergadering opgestaan en uitgestap het ná sy verneder is in ‘n woord-tirade deur mede-raadslid Francois Groepe.

Wat hét haar van Pierre de Vos ontstig?

“Ek het eenvoudig my humeur verloor. Ek bedoel, Peertjie het net beledigings, nie argumente nie. Sy blog is ‘n stuk Afrikaner-bashing, en dis nie eens goed geskryf nie!
“Mense soos De Vos maak ‘n karikatuur van ons, etiketteer ons as hierdie oumense wat bly vasklou aan apartheid. Hulle sê ons maak of ons begaan is oor taal en onderrig, maar eintlik wil ons Maties wit hou.

“Dis waarop dit neerkom: dat ons wit rassiste is.”

Sy sit daar in haar Stilbaai-leunstoel, mooi, geamuseerde gryskopvrou met die skerp verstand agter die skerp blou oë. Later, met die terugry Kaap toe, beaam die Engelse fotograaf: jeez, she looks like an ouma, until she opens her mouth...

Vra maar vir Pierre de Vos.

“Ja, ek het nou regtigwaar gedaal tot die slegsêvlak. Daar’s nie argumente nie, dis uitskel, dis wat dit is. Soos: hoe sal Pierre de Vos voel om ‘n bynaam te kry waarvan hy nie gaan ontslae raak nie? As ek ‘n taalkoei is… is hy nou Peertjie.”

Sy noem De Vos ‘n ‘akademiese liggewig’. ‘n Liederlike belediging, weet sy.

“Maar hy ís. Natuurlik sê ek dit nié oor sy eie vakgebied nie. Daarin, veronderstel ek, is hy ‘n man van substansie. Maar die punt is, hy weet kennelik niks van taalnavorsing en die hele groot wêreld van linguistiek en opvoedkunde nie. Wêreldwyd, tot in Finland en Swede, is daar al dekades se navorsing gedoen oor taalsituasies.”

Soos Gerrit Brand (op litnet) vra: het Pierre de Vos al iets gelees van Neville Alexander? Só vra Marié Heese: het De Vos al iets gelees van Jim Cummins en Tove Skutnabb-Kangas, wat ‘n gebrek aan moedertaalonderrig ‘n misdaad teen die mensdom noem? Iets van Christo van der Rheede, dalk?

“Nee kyk, onse Peertjie is ‘n ignoramus!”

Haar wange het begin gloei toe sy aan die einde van die De Vos-blog lees: as sy die taal wil red, hoekom skryf sy nie ‘n mooi gedig of e-pos ‘in your beautiful Afrikaans’ nie?

“Dis so neerbuigend. Ek het nuus vir hom. Ek het al goed geskryf in ‘beautiful’ Afrikaans en in ‘beautiful’ Engels en ek kry my werkwoorde reg.”

Dié kind van Audrey Blignault se literêre bydrae in Afrikaans én Engels is bevestig in haar klassieke Die Uurwerk Kantel, in historiese romans soos Double Crown wat ‘n Statebondsprys gewen het, in reisverhale, akademiese werke, kortverhale – soveel meer as net kinderstories oor die Pikkewouters van Amper-Stamperland.

Sy gaan haal ‘n vraggie navorsingsartikels en verslae waarin die sogenaamde “taalbulle” met hul saak geworstel het. Agterin, stewige bronnelyste. “Ons praat met gravitas,” sê sy en glimlag. “Ons navorsing is gedoen.”

Sy wéét van taal.

Sy weet ook van die enorme mag – veral as taal van die ekonomie – van Engels, en die versugting van nie-Engelssprekers om Engels baas te raak, om daardeur bemagtig te word.

Op universiteit is eenvoudige taalkennis nie genoeg nie, verduidelik sy Cummins se navorsing, van Bics as basiese taalbedrewenheid en Calp as beheersing van ‘n taal op abstrakte, akademiese vlak.

“Mense maak steeds die fout om te dink as ‘n student op gespreksvlak taalvaardig is, is hy ook abstrak taalvaardig. Dis hoekom studente so liederlik faal. In hul moedertaal sou hulle abstrakte begrippe op universiteit beter kon hanteer, wat dan ‘n trapklip kan word om ook ‘n tweede taal abstrak te leer hanteer.

“Vir my gaan dit alleenlik om die beste belang van ons studente. Jy kan sê ja, maar die studente wil Engels hê, en hul ouers wil Engels hê, maar ek weet dat as hul huistaal Afrikaans is, dan is ‘wil Engels hê’ as eerstejaar op universiteit nie ‘n goeie opsie nie. Daar’s wêreldwye navorsing wat dit bewys, daar’s nie meer daaroor te strye nie.”

US-rektor prof. Russel Bothman praat altyd van die plaasboer se seun en die plaaswerker se dogter wat dieselfde kanse behoort te hê, vertel sy.

“Maar hulle gaan nié. Wie se Engels is beter? Wie se Engels is áltyd beter? Ek sal jou sê: die rykes, man, en die swart kinders met black diamond-ouers. Hulle sit in privaatskole met hul pragtige Engels. En wie word benadeel? Dié wat nog altyd benadeel is. Dieselfde arme, ontmagtigdes van die verlede, die Afrikaanses uit die platteland.”

Die antwoord? Tolkdienste. “Theuns Eloff-hulle by Noordwes-universiteit het dit deeglik nagevors en geëvalueer. Ons reken dis die beste opsie. Waar’s die US-navorsing wat wys dat die T-opsie (dubbelmedium-onderrig) werk?”

Sy skud haar kop. “Dis nou behalwe vir dalk ‘n paar onderhoude waar iemand sê ‘nee, ek voel orraait oor die T-opsie.’

“Die probleem is, daar’s ‘n gebrek aan wil by die US-bestuur. Ek is spýt dat ek dit sê want ek dink wel daar word baie goeie dinge op Stellenbosch gedoen vir Afrikaans, soos die Woordfees, die hernieude werk aan die WAT, Woorde open Wêrelde, die eerstejaarsakademie wat studente help om akademies te vorder.

“Dis dus vir my ‘n hartseersaak om te moet sê wat onderrigmedium betref, is hulle nie Afrikaans ter wille nie.”

En die ouma hap nie in die lug nie. Sy’t feite.

“Jy kan dit numeries nagaan. Die Afrikaans-komponent het oor die afgelope jare drasties afgeneem. Dis nie ‘n wanpersepsie nie. Dis nie op verkeerde inligting gebaseer nie. Dis ‘n féit.”

Die US-bestuur, én die dosente, se willoosheid vir Afrikaans is deel van ‘n groter politieke realiteit, sê sy. “Ek dink daar is en was by die regering male fide teenoor Afrikaners.”

Marié Heese kén mag, sy ken die spel van mag en ontmagtiging, vertel ‘n vriend. Haar nuwe boek, The Colour of Power, gaan oor keiserin Theodora uit die Bisantynse ryk – eens ‘n ontmagtigde, en later déél van die mag. “Die band tussen haar boek en haar toewyding aan moedertaalonderrig is die kwessie van mag of bemagtiging,” sê hy.

Sy dra self die littekens van die magspel in die Matie-taaldebat. Sy het later uit moedeloosheid uit die US-raad bedank. Die nou-al-berugte raadskonferensie by Arabella-gholflandgoed, “waar besluite oor taal sommer tjop-tjop en ongekonstitueerd deurgedruk is”, was die laaste strooi. Ná haar protesbrief daaroor in Die Burger, wou mede-US-raadslid Francois Groepe haar onder sensuur plaas.

“Ek hét in die volgende vergadering om verskoning gevra dat ek iets wat in die Raad hoort, publiek gemaak het – al dink ek steeds dat ek die Raad se gedragskode, die beswil van studente, gedien het.” Groepe, wat uit Londen per telekon deelgeneem het, het haar aanhou slegsê, vertel sy, met voorsitter Paul Cluver wat dit gelate laat aangaan het totdat Jannie Mouton opstaan en uitstap. “En toe hy uitstap, staan ek op, Lina Spies én Hermann Giliomee en stap daar uit, sonder dat ons eens vir mekaar gekyk het.”

En dan, verder padlangs, raak Marié nóg ‘n bron van moerigheid aan: die “absolute verkeerde siening” van die destydse bantoe-onderwys. “En ek vergoeilik nié apartheid nie, allermins!

“My lewe lank, as ek gewerk het, was dit skoolhou en tersiëre onderrig. Ek het baie selde wit studente gehad. Ek kén bantoe-onderwys. En ek praat nou van féite.”

Eintlik, sê sy, was dit om van niets iets te maak: om skielik ‘n geweldige hoeveelheid mense te moes onderrig. “Kyk hoeveel skole was daar voor Jan Smuts, en hoeveel teen die einde van die Afrikaner se heerskappy: ‘n volledige gedifferensieerde onderwysstelsel, laer- en hoërskole, tegniese kolleges en universiteite.

“Daar’s nie dieselfde hoeveelheid geld uitgegee per kind nie, dis waar. En party onderwysers hét klasgegee met onvoldoende opleiding, dalk net standerd agt, en twee jaar se mentorskap by ‘n onderwyser.

 “Maar die geskiedenis van opvoedkundige stelsels wêreldwyd wýs dis die pad wat geloop word wanneer groot getalle mense skielik moet begin onderwys kry. Jy begin met minder as ideale omstandighede.

“Nie ideaal nie, nie great nie, maar dit was daar en dit het gewerk. Teenoor wat nóú aan die gang is!

“Mamphela Ramphela het gesê sy haat dit om dit te erken, maar die bantoe-onderwys wat hulle gehad het, het hulle beter gedien as die onderwys nou.”

Marié sê mense herinner altyd aan Verwoerd se “absolute horribale toespraak” dat swart- en bruin kinders nie hoef nie te leer nie, want hulle is bestem om houthakkers en waterdraers te word.

“Dit was nié die onderwysbeleid nie.

“Mense sê hulle het nie wiskunde-onderrig gekry nie, dis balls man, hulle het dieselfde eksamens as almal geskryf!

“Ek het in my lewe nooit soggens wakkergeword en gesê ek gaan nou vir Indiërs klasgee, dus kan ek nou maar afskeep en minderwaardige onderrig gee nie. Twak man! Ek het altyd my bes gelewer. En ek is nie die uitsondering nie.

“En wat het ons nóú?”

Haar man Chris kom die vertrek binne, vrolik, “ek kom nou hierdie paartie opbreek vir koffie!” Hy was destyds hoof van onderwysopleiding, oud-skoolhoof, pedagoog. Haar sielsgenoot.

Met die uitstap praat ons oor prof. Chris Brink wat glo met sy uittrede as rektor gesê het hy het die US-skip omgedraai.

“Waarheen? Op die Engelse glybaan?”

Sy knipoog.

“Ek het ‘n spesmaas die skip kan dalk net teruggedraai word. Ek dink daar’s ‘n gety-kentering. Dis nie meer net die oues wat pro-Afrikaans  is nie. Al meer jongmense sê: hier’s ons, ons wil hier wees, en ons wil Afrikaans praat terwyl ons die land vorentoe vat.”

- Oorspronklik verskyn in Rapport

Stuur jou kommentaar aan Hanlie

Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.


 
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Now that e-tolls gantries have been switched off, will you be settling your outstanding debt?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No way, they're not getting a cent from me
88% - 1772 votes
Yes, I guess it's the right thing to do
4% - 75 votes
Mmh, I'm watching legal cases and playing it by ear
8% - 168 votes
Vote
Rand - Dollar
19.01
+0.2%
Rand - Pound
23.68
-0.1%
Rand - Euro
20.29
-0.4%
Rand - Aus dollar
12.24
-0.4%
Rand - Yen
0.12
-0.1%
Platinum
952.30
-2.4%
Palladium
1,036.00
+1.3%
Gold
2,371.75
-0.5%
Silver
28.27
+0.6%
Brent Crude
90.02
-0.1%
Top 40
66,899
0.0%
All Share
72,995
-0.0%
Resource 10
63,378
+2.8%
Industrial 25
97,824
-0.5%
Financial 15
15,384
-1.7%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE