Kaapstad – 'n Staptog na onder andere die Uniegebou en 'n gepaardgaande "sosialemedia-staptog" deur die burgerregte-organisasie AfriForum het Dinsdag die mikroblogdiens Twitter aan die gons gehad.
Dié veldtog is gereël in reaksie op wat AfriForum beskryf as die regerende party se "politieke wanvoorstellings oor die grensoorlog".
Pres. Zuma het onder kritiek deurgeloop nadat hy tydens die ANC se eeufeesviering gesê het die ou Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) het groot neerlae gely by die “epiese slag van Cuito Cuanavale” in Angola.
'n Groep verteenwoordigers, wat uit kunstenaars, afgevaardigdes van verskeie organisasies en voormalige lede van die SAW bestaan, het aan die staptog deelgeneem.
Kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Gerhard Steyn, Jakkie Louw, Adam Tas en Gerrie Pretorius het hul steun aan die projek toegesê.
Die groep sou na verwagting 'n memorandum met sy eie weergawe van die geskiedenis rondom Cuito Cuanavale by die ambassades van Kuba, Rusland, Angola en die VSA aflewer. Die groep het beplan om van daar na die Uniegebou te vertrek om die memorandum ook daar af te lewer.
AfriForum het ’n week gelede ’n ope brief in Afrikaans in die vorm van ’n
YouTube-video aan die president gerig waarin hy sy uitlating oor Cuito Cuanavale bevraagteken het.
'n "Virtuele staptog" is Dinsdag ook op sosiale netwerke van stapel gestuur. Teen Dinsdag 12:00, terwyl die staptog aan die gang was, was die Twitter-profiele van Afriforum en Ernst Roets, uitvoerende adjunkhoof van die organisasie, volgens die diens
Trendsmap.com die mees bespreekte onderwerpe op Twitter, terwyl die hutsmerker
#onswasdaar, wat spesifiek vir die veldtog gekies is, die vyfde gewildste onderwerp in die land was op dié sosiale netwerk.
Die veldtog is egter nie oral verwelkom nie.
’n IT-konsultant van Stellenbosch, Johan Pienaar, het sedert dié projek van stapel gestuur is opslae gemaak met 'n protesbrief waarin hy onder meer weier dat AfriForum namens hom praat. Hy het sowat 200 stemme gewerf.
Roets het op sy beurt gesê AfriForum praat slegs namens sy lede.
“Hoewel daar teenreaksie is, is dit baie klein. AfriForum posisioneer hom by die groep gematigdes wat wil saamstaan in die land, maar sterk standpunt kan inneem as dit moet,” het hy gesê.
Die skrywer Max du Preez het sy teenkanting teen die projek uitgespreek deur te wys op die "simplistiese benadering van die probleem" en die wyse waarop daar mildelik in die video van die ou SAW se bruin gevegsuniforms gebruik gemaak word.
“Ek is bekommerd en kwaad oor AfriForum my eie mense en kinders se toekoms in gevaar stel met gevaarlike uitlatings,” het Du Preez volgens
Beeld gesê.
– Volg Nuus24 op
Twitter.
Nuus24