Kaapstad – 'n Vrystaatse professor meen daar is 'n risiko dat hidrobreking in die Karoo een van die grootste waterbesoedelingsprobleme in die wêreld kan veroorsaak, het die
Cape Times Vrydag berig.
"Hierdie is ernstige sake. Daar sal moeilikheid wees, en Shell en die ander maatskappye wat betrokke is moet kennis neem," het prof. Gerrit van Tonder van die Universiteit van die Vrystaat aan die publikasie gesê.
Hy het verlede Julie aan boere in die Karoo gesê hulle hoef nie bekommerd te wees oor besoedeling weens hidrobreking nie, maar sê sy standpunt het verander ná sy jongste navorsing.
Van Tonder sê nou hy is "100 persent seker" dat ondergrondse water in die Karoo-kom wel opwaarts kan vloei. Dié water kan gevolglik die gifstowwe afkomstig van hidrobreking na varswaterbronne nader aan die oppervlak bring.
Op dié manier, gekombineer met die kunsmatige openings wat deur booraktiwiteite geskep word, kan besoedelde water enorme probleme vir boere skep, het hy gesê.
Hidrobreking behels die pomp van 'n mengsel van sand, water en chemikalieë na rotslae wat skaliegas bevat. Dié proses stel die gas vry, wat dan deur die boorgat styg en op die oppervlak opgevang word.
Dipuo Peters, minister van energie, het intussen gesê die probleme met hidrobreking moet oorkom word met navorsing en tegnologie.
"Ons kan nie dat 'n seën ongebruik lê nie... As skaliegas een van dié seënings is, gaan ons dit gebruik," het Peters gesê.
– Volg Nuus24 op
Twitter.
SAPA