Nuus24 WEBWERWE/DIENSTE >

Langafstand-geliefdes deel dalk gou kubersoene

2012-07-23 10:01
Singapoer – Vind jy dit moeilik om die passie in ‘n langafstand-verhouding aan die gang te hou? Hulp kan dalk om die draai wees.

‘n Professor in Singapoer het ‘n toestel, toegerus met beweging-sensitiewe elektroniese lippe, ontwerp wat paartjies toelaat om ‘n soen via die internet te deel.

Die Kissenger, kort vir Kiss Messenger, lyk soos ‘n klein kop met oorgrote silikoon-lippe en is Junie by ‘n wetenskap-konferensie in Brittanje bekendgestel. Daar word nog aan die toestel geskaaf voor dit op die winkelrakke beskikbaar sal wees.

“Dit kan tussen mense gebruik word om kommunikasie te verbeter,” het sy ontwerper, Hooman Samani, gesê.

Paartjies hoef net die toestel met ‘n USB-kabel aan die rekenaar te verbind, seker maak die internet is aan en dan die silikoon lippe begin soen wat sensors sal aktiveer en die lippe van die ander toestel sal beweeg.

Hulle kan na mekaar op die skerm kyk terwyl hulle soen.

Die “spesiale silikoon materiaal” bied die “beste sensasie en gevoel” vir die lippe, het Samani, wat al persoonlik die toestel getoets het, gesê.

Die Kissenger is ten spyte van die groot aanvraag nog nie gereed vir die winkelrakke nie. Daar is nog “etiese kwessies” wat uitgesorteer moet word, het die wetenskaplike gesê.

“Soen is baie intiem, so as ons ‘n produk op die mark wil hê wat verband hou met sensitiewe kwessies, moet ons eers ‘n behoorlike studie doen oor die sosiale en kulturele impak wat die produk kan hê.”

Samani noem sy studieveld “lovotics”, die studie van die verhouding tussen die mens en robotte.

– Volg Nuus24 op Twitter
  Sapa - AFP
Lees meer oor:    singapoer  |  wetenskap  |  tegnologie
Ad:Funeral Cover from R29/m
«Terug
Ad:Standard Bank Life Cover