Dotcom wag om te hoor of Nieu-Seeland hom aan die VSA sal uitlewer ná Megaupload se bedrywighede gestaak is omdat dié webdiens glo sagteware, musiek en ander digitale lêers op onwettige wyse versprei het.
Die Duitser het in die minder as drie weke wat hy op Twitter aktief is, al 56 000 volgelinge gekry. Dit beteken Dotcom het meer volgelinge as die Nieu-Seelandse premier, John Key (dié het 52 500 volgelinge).
"Volgende stop @BarackObama," het hy grappenderwys gesê, met verwysing na die Amerikaanse president se 17,2 miljoen Twitter-volgelinge.
Dotcom is op borgtog vrygelaat ná hy in Januarie in hegtenis geneem is tydens 'n klopjag op sy landgoed buite Auckland. Owerhede meen Megaupload het sagtewaremaatskappye en vervaardigers van rolprente en musiek honderde miljoene dollars gekos deur hulle skeppings gratis op Megaupload beskikbaar te stel.
"Hulle het die verkeerde ou gekies," het Dotcom onder andere op sy Twitter-profiel, @KimDotcom, gesê.
"Dis tyd om terug te veg. Kom ons almal staan saam en veg teen hulle," het hy bygevoeg.
"Geen geld vir prokureurs. Geen geregtigheid vir Mega-gebruikers. Vuil vervolgingstaktiek. Dis sleg," het een van sy ander boodskappe gelui.
Dotcom se uitleweringsverhoor is vir 6 Augustus geskeduleer.
Nieu-Seeland se hooggeregshof het vroeër beslis lasbriewe wat uitgereik is vir die klopjag by Dotcom se huis was onwettig.
Die hof het ook gesê die polisie het onwettig op bewysstukke, onder andere rekenaar-hardeskywe, beslag gelê.
Kenners meen dié uitspraak het die saak teen Dotcom 'n aansienlike knou gegee.
– Volg Nuus24 op Twitter.