Nuus24 WEBWERWE/DIENSTE >

Tienduisende verloor binnekort internettoegang weens virus

2012-07-06 09:50
Washington – Tienduisende rekanaargebruikers oor die wêreld heen wat verlede jaar deur 'n rekenaarvirus geraak is, kan hulle internettoegang Maandag verloor.

'n Tydelike oplossing wat deur Amerikaanse owerhede geskep is om dié virus onder beheer te bring verval op dié dag, het rekenaarveiligheidskenners gesê.

Die virus, bekend as DNS Changer, is deur kuberkrakers geskep om internetverkeer te herlei deur weblesers se domeinnaamstelsel oor te neem.

Die sindikaat agter die verspreiding van die virus, wat in 2007 die eerste keer ontdek is, is verlede jaar deur die FBI en ander wetstoepassingsagentskappe ontbind.

Omdat die virus soveel chaos op die internet veroorsaak het, het owerhede 'n hofbevel aan die FBI toegestaan wat hom toelaat om bedieners beskikbaar te stel wat internetverkeer normaal laat vloei, selfs op rekenaars wat deur die virus besmet is.

Dié veiligheidsnet bestaan van Maandag af nie meer nie.

Die FBI, Facebook, Google en internetdiensverskaffers het gebruikers die laaste paar maande gewaarsku om die nodige te doen om die virus op hul rekenaars uit te wis, maar teen 11 Junie was 300 000 rekenaars nog met die virus besmet.

Rekenaarveiligheidskenners sê dis nie moontlik om te bepaal hoeveel van hierdie rekenaars nog aktief is nie.

"Dis 'n baie groot probleem om slagoffers in die hande te kry, en dis iets waarmee ons al jare lank sukkel," het Johannes Ullrich, 'n navorser, gesê.

Kenners sê gebruikers wie se rekenaars nog met die virus besmet is sal hulle toegang tot die internet heeltemal verloor.

"Toegang tot die internet sal verloor word, punt," het 'n bloginskrywing op die sekuriteitsfirma Symantec se webwerf gelui.

"As jou rekenaar op 9 Julie steeds DNS-inskrywings het wat na die FBI se bedieners wys, sal jy jou toegang tot die internet heeltemal verloor. Geen manier om met die kantoor van die huis af te koppel nie, geen Facebook-opdaterings nie; niks tot die DNS-verstellings nie reggestel is nie."

Gebruikers wat bang is dat hulle moontlik deur die virus geraak word, kan die DNS Changer-werkgroep se webwerf besoek vir raad om die probleem op te los.

– Volg Nuus24 op Twitter.
SAPA
Lees meer oor:    internet  |  rekenaarvirusse
Ad:Retirement Plan from R150/m (RSA Residents Only)
«Terug
Ad:Family Funeral Plan from R36/m (SA residents only)