Jakarta – Meer as 1 000 oerang-oetangs in Borneo wat in aanhouding was gaan binnekort vrygelaat word. Kenners op die gebied is egter nie baie bly hieroor nie.
Hulle sê dié diere gaan blootgestel word aan die onwettige afkap van die bome waarvan hulle afhanklik is sowel as al die wildstropers wat aktief is in die area.
Indonesië het 8 6450 hektaar grond in Muara Wahau opsy gesit vir die rehabilitasie van 1 200 oerang-oetangs wat tot dusver in aanhouding was.
Die Centre for Orang-utan Protection (COP) het egter gewaarsku dat die bedreigde diere na hul dood gestuur word, tensy die regering wildstropery en die onwettige afkap van woude, onder beheer kan bring.
“Sonder die nodige polisiëring en die regering se waarborg dat die diere beveilig sal word, is dit soos om hulle ongewapend in ‘n oorlogsgebied in te stuur,” het Hardi Baktiantoro van die COP gesê.
Hy sê dat dit die plaaslike inwoners van Muara Wuhau is wat grotendeels verantwoordelik is vir die vernietiging van die area se flora en fauna.
Volg Nuus24 op Twitter.
AFP