Nuus24 WEBWERWE/DIENSTE >

Oscar en sy spanmaats kry nog 'n kans

2012-08-09 15:00
Londen – Suid-Afrika se Olimpiese aflosspan sal in die finaal van die 4x400 wees nadat bevind is dat 'n Keniaanse atleet, Vincent Killu, obstruksie gepleeg het toe hy met Ofentse Mogawane kontak gemaak het.

Mogawane, wat Donderdag die tweede been genael het, het gevolglik hard met die aarde kennis gemaak en sy skouer in die proses ontwrig.

Oscar Pistorius, wat die stokkie by Mogawane moes vat, kon net verslae toekyk toe sy spanmaat op die baan bly lê.

"Die appélraad het ontmoet en ingestem om die Suid-Afrikaanse span na die finaal te laat vorder, alhoewel hulle nie die wedloop voltooi het nie. Daar is in ag geneem dat hulle erg beskadig is in die voorval met Kenia," het die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) in 'n verklaring gesê.

"Suid-Afrika sal as 'n bykomende span in baan nege deelneem."

Pistorius het kort daarna getweet: Dis aan! Ons is in die finaal! Spanbestuur het protesteer omdat Ofentse uitgehaal is en ons het baan nege gekry. LJ van Zyl sal sy plek neem!!!

Suid-Afrika sal deur LJ van Zyl, Pistorius, Willie de Beer en Shaun de Jager in die finaal, wat Vrydag om 22:20 SA tyd plaasvind, verteenwoordig word.

Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.

Sport24
Lees meer oor:    olimpiese spele
Ad:Retirement Plan from R150/m (RSA Residents Only)
«Terug
Ad:Family Funeral Plan from R36/m (SA residents only)