Johannesburg – Die ANC-Jeugliga het gesê hy bly “onapologeties” nadat die DA Sondag ‘n klag van intimidasie teen die liga se adjunkpresident, Ronald Lamola, ingedien het.
“Dit is hulle wat oorlog in hierdie land aanhits, aangesien hulle weier om die grond oor te gee,” het Magdalene Moonsamy, ANCYL-woordvoerder, gesê.
“Ons sal nie gyselaar gehou word deur ‘n minderheidsgroep wat aanhou om die armste van die armes te onderdruk nie,” het sy gesê.
Anthony Benadie, leier van die DA in Mpumalanga, het in ‘n verklaring gesê die party het ‘n klag van intimidasie teen Lamola ingedien by die Middelburg-polisiekantoor.
Dit volg op Lamola se “roekelose en aanstootlike” opmerkings oor grondhervorming, het Benadie gesê.
“As Mnr. Lamola van plan is om die volgende Julius Malema te word, moet hy vinnig leer dat haatvolle verklarings nie geduld word in ons Suid-Afrikaanse grondwetlike demokrasie nie.”
Moonsamy het gesê die DA het nie die ANCYL van die klag ingelig nie.
Die ANCYL sal aanhou met sy beroep op die onteiening van grond sonder vergoeding, het sy gesê.
“Die ekonomiese situasie vereis ‘n baie haastige herverspreiding van grond aan die inheemse mense van Suid-Afrika.
“Ons is onapologeties en verseker dat wat gedoen moet word, gedoen word.”
Sy het aanbeveel dat “in goeie gees”, in die plek daarvan om klagte in te dien, die DA moet dink aan hoe hulle minderheidsgroepe kan aanmoedig om grond terug te gee.
Lamola het vroeër vandeesmaand by ‘n mediakonferensie in Pretoria gesê Seksie 25 van die grondwet moet aangepas word om toe te laat dat daar ‘n verandering in grondhervormingbeleid kan wees.
“Die enigste oplossing is onteiening sonder vergoeding,” het hy toe gesê.
As wit Suid-Afrikaners nie hul grond aan arm swartes oorhandig nie, kan daar grondbesettings wees soos in Zimbabwe gebeur het, het hy gewaarsku.
Hy het ook gesê hy kan nie die veiligheid van “die Van Tonders en die Van der Merwes op plase” waarborg nie.
Afriforum Jeug het Woensdag ‘n klag van intimidasie teen Lamola in Pretoria ingedien.
Charl Oberholzer, voorsitter, het gesê sy organisasie sal ook voortgaan met ‘n klag van haatspraak teen Lamola in die Gelykheidshof.
- Volg Nuus24 op
Twitter
SAPA