Nuus24

DA sal met polisie vergader oor optog

2012-05-17 20:03
Johannesburg – Die DA sal met die polisie in Gauteng vergader om Dinsdag se DA-optog na Cosatu se kantore, wat deur openbare geweld gekenmerk is, te bespreek, het die party Donderdag gesê.

Kate Lorimer, DA-woordvoerder, het gesê sy sal volgende Dinsdag met die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, genl. Pumzo Gela, vergader.

Hulle sal “bespreek wat fout gegaan het met die polisiëring van die DA-optog na Cosatu en hoe ons kan voorkom dat dieselfde situasie weer in die toekoms gebeur”, het sy in ‘n verklaring gesê.

Lt. kol. Tshisikhawe Ndou, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie sal ná die vergadering kommentaar lewer.

Vroeër Donderdag het Lorimer gesê die optog het nie genoegsame openbare orde-polisiëring en beskerming gehad nie.

Die polisie moet verduidelik waarom daar nie meer beamptes van openbare orde op die toneel was nie, waarom Cosatu-ondersteuners nie uitmekaargejaag is nie – aangesien hul betoging onwettig was – en waarom geen bedreigingassesserings voor die optog gedoen is nie.

Sy het aan die polisie geskryf om ‘n vergadering met die waarnemende kommissaris aan te vra om te bespreek wat fout gegaan het en hoe soortgelyke situasies in die toekoms vermy kan word.

“Dit is belangrik dat die SA Polisiediens moet verduidelik waarom hulle nie die wettige reg van die DA om te marsjeer, beskerm het nie,” het sy gesê.

“Het politieke druk hul gedrag beïnvloed?”

In haar brief het Lorimer gekla dat die gebrek aan voorbereiding van beamptes van openbare orde en die gebrek aan beskerming onaanvaarbaar is.

Daar was duidelik geen kommunikasie tussen die SAPD en die Johannesburg Metropolisiedepartement (JMPD) wat die optog betref nie, het sy gesê.

“Die twee was swak georganiseer en het ‘n ernstige gebrek aan mannekrag en hulpbronne gehad.”

Dit is die werk van die polisie om die wet toe te pas en die DA het ‘n wettige reg gehad om ‘n optog te hou.

“Oor en oor het ek ons DA-betogers hoor sê hulle sal nooit weer die polisie vertrou nie, aangesien die SAPD duidelik meer aan Cosatu se kant was,” het sy gesê.

“Dit kan verstaan word dat hulle tot hierdie gevolgtrekking gekom het.”

Die SA Kommunistiese Party het die geweld veroordeel. Volgens die SAKP is die geweld deur die DA na die stad gebring.

Die party het die DA-leier, Helen Zille, daarvan beskuldig dat sy werklose swart jeugdiges gehuur het om die betogers aan te val en het die geweld met die sluipmoord op Chris Hani vergelyk.

Dinsdag se optog, wat gelei is deur Zille, Makashule Gana (jeugleier), Lindiwe Mazibuko (parlementêre leier) en Mmusi Maimane (nasionale woordvoerder) het vreedsaam begin.

Toe die betogers egter in Jorissenstraat in Braamfontein afgedraai het, is hulle begroet deur Cosatu-lede wat getoyi-toyi het nadat hulle in die straat afbeweeg het van Cosatu se kantore oorkant die Johannesburg Teater.

Die twee groepe het mekaar vir ‘n uur lank oor en weer beledig, met ‘n ry polisiebeamptes wat hulle uit mekaar gehou het.

Toe klippe en stukke sement die gehoor in gegooi is tydens Zille se toespraak en ‘n DA-lid op die BBP-vragmotor ernstig beseer is, het die DA na Jan Smutslaan teruggetrek.

Cosatu-lede het DA-ondersteuners agternagesit en die polisie het hul hande vol gehad om groepe te probeer beheer wat betogers in blou hemde wou wegjaag.

Die polisie het mettertyd traangas en ‘n waterkanon ingespan om die Cosatu-skare uitmekaar te jaag.

Verskeie motorvensters is gebreek en minstens twee mense is beseer deur vlieënde klippe en bakstene.

- Volg Nuus24 op Twitter

  SAPA
Lees meer oor:    jeugsubsidie  |  cosatu  |  optog  |  demokratiese alliansie
Ad:Retirement Plan from R150/m (RSA Residents Only)
«Terug
Ad:Family Funeral Plan from R36/m (SA residents only)