Johannesburg – Die veroordeelde moordenaar Clive Derby-Lewis moet in die tronk vrot, het die SAKP se jeugliga (YCL) Dinsdag gesê.
"Hierdie afskuwelike man is steeds 'n simbool van die wreedheid van apartheid en sy duiwelse plan om verdere onstabiliteit te bring. Sy onbarmhartige houding bly ons hoofargument oor hoekom hy in die tronk moet vrot," het die jeugliga se nasionale woordvoerder, Mangaliso Stalin Khonza, gesê.
Khonza het gesê Derby-Lewis se aansoek om mediese parool moet geweier word oor die boosheid wat hy steeds verteenwoordig.
Derby-Lewis se vrou, Gaye, het Maandag aan
Eyewitness News gesê dat Derby-Lewis vir
mediese parool sal aansoek doen omdat hy siek is.
Sy beplan om die aansoekvorms binne die volgende paar weke in te handig en hoop dit slaag aangesien haar man kanker het en sukkel met gangreen in sy een been.
Derby-Lewis (76) het al 19 van sy 25 jaar tronkstraf uitgedien vir die moord in 1993 op Chris Hani, wat 'n voormalige SAKP-leier was.
Sy aansoek om gewone parool is in 2008 sowel as 2010 geweier en sy visier is nou op mediese parool.
Volg
Nuus24 op Twitter.
SAPA