Johannesburg – Drie mense het gesterf tydens ‘n rooftog in Ntabankulu, naby Queenstown in die Oos-Kaap, het die polisie gesê.
Kapt. Mlungisi Matidane sê ‘n Pakistanse handelaar en sy wagters is in die Bhonxa-lokasie doodgeskiet.
Die handelaar en sy Suid-Afrikaanse vriendin het die wagters net ná middernag hoor skree.
Vier mans het by die agterdeur van die winkel verskyn en geld geëis.
“Hulle het aanhou om vir geld te vra en toe die Pakistanse burger sê hy het geen geld nie, het hulle hom doodgeskiet,” het Matidane gesê.
Hy sê die bende het ook die wagters doodgeskiet.
Die bure het kennis van die aanval geneem toe die vrou begin skree het.
Nog ‘n skoot is gehoor nadat die mans weggehardloop het.
“Een van die verdagtes is deur die ander verdagtes doodgeskiet,” het Matidane gesê.
‘n Onbekende hoeveelheid geld is gesteel.
Volg Nuus24 op Twitter
SAPA