Durban – Die Wêreld-toiletberaad, wat in Desember in Durban gehou word, sal poog om die probleme wat 'n tekort aan sanitasie veroorsaak op te los.
Alfie Heeger, voorsitter van Suid-Afrika se toiletorganisasie, sê in dié land alleen moet sowat 1,4 miljoen huishoudings, oftewel vyf miljoen mense, sonder toilette klaarkom.
'n Verdere 3,6 miljoen huishoudings het swak of onvoldoende fasiliteite wat opgegradeer of vervang moet word.
Sonder die nodige toiletgeriewe, sterf 'n kind elke 15 sekondes, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), weens diarree.
Daar is geen tekort aan toilet-vervaardigers nie, dit is eerder 'n tekort aan politieke wilskrag wat die probleem is, het Heeger gesê.
Hy het gesê munisipaliteite in die Vrystaat en Limpopo het die afgelope twee jaar geen tenders uitgegee vir die bou van toiletgeriewe nie.
'n Ander probleem is die belofte van spoeltoilette in 'n land waar water skaars is.
"Ons moet na alternatiewe kyk. Ons het nodig om die bewaring van hulpbronne te bevorder," het Heeger gesê.
Die alternatief is om waterlose toilette, wat geen chemikalieë bevat nie, te installeer om die afvalprodukte as bemesting in landbou te gebruik.
Die beraad begin op 3 Desember en sal na verwagting deur sowat 1 000 afgevaardiges bygewoon word.
Volg
Nuus24 op Twitter.
SAPA