Johannesburg – Die tiener wat verlede jaar ernstig beseer is in ‘n ongeluk waarin ‘n staatsvoertuig betrokke was, het ‘n tussentydse betaling van R870 000 deur die Padongelukkefonds (Pof) ontvang, het
Beeld Woensdag berig.
Thomas Ferreira (19) is in November 2011 deur ‘n voertuig getref wat met Humphrey Mmemezi, Gautengse LUR vir plaaslike behuising en regering, verbind is en het gevolglik breinskade opgedoen.
Die uitbetaling sal gebruik word om Ferreira se hospitaalrekening te betaal, maar hy het ander deurlopende uitgawes waarvan niks tot dusver betaal is nie.
In antwoord op ‘n vraag deur die DA-LPW Jack Bloom, het Gauteng se premier, Nomvula Mokonyane, gesê sy weier dat Ferreira se saak as ‘n politieke speelbal gebruik word.
Sy het gesê sy sal haar belofte nakom om te verseker dat al Ferreira se uitgawes gedek word.
“Dit is nie ‘n leë belofte nie, hy word ondersteun. Ek weier om toe te laat dat die kwessie gepolitiseer word en ek wens hom alles van die beste toe.”
– Volg Nuus24 op
Twitter
SAPA