Kaapstad – Die premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, het die nasionale regering uitgedaag om die helfte van die R5 miljard wat vir ‘n jeugloonsubsidie uitgesit is, aan die provinsie te gee.
“Ons doen ‘n beroep op die nasionale regering. As hulle dit nie kan gebruik vir die beoogde doel nie omdat die ANC Cosatu toelaat om die implementering van die beleid te blokkeer, wel, gee dit vir ons in die Wes-Kaap.
“Ons sal julle in ‘n projek wys hoe uitstekend hierdie program kan wees as dit ordentlik geïmplementeer word en ons sal ook wys dat geen van die negatiewe effekte wat Cosatu voorspel sal gebeur nie.”
Zille het gepraat by ‘n praatjie oor ‘n jeugloonsubsidie-program wat in die Wes-Kaap bekendgestel word.
Alan Winde, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, het gesê die program, wat in 2009 geskep is, het meer as 2 000 mense wat vir die eerste maal werk soek in ‘n werksposisie van ses maande gekry, met sowat 70 persent wat voltyds in die posisie aangebly het.
Die ontvangers van die subsidie, tussen die ouderdomme van 15 en 34, het maandeliks R1 200 van die provinsie ontvang, met heelwat maatskappye wat gekies het om bykomende gelde te betaal.
Met die nasionale jeugsubsidie sal Sars maatskappye gedeeltelik vergoed wat lone aan ‘n jong werknemer betaal.
Zille het gesê sy ondersteun die program.
“Ons ondersteun die nasionale tesourie se weergawe volledig. Natuurlik kan ons dit nie plaaslik doen nie omdat ons nie beheer oor Sars het nie.”
Sy het ‘n beroep op President Jacob Zuma gedoen om ‘n besluit oor die program te maak.
“Ons sê aan die president: lei hierdie land. Laat jy Cosatu toe om jou gyselaar te hou omdat jy herverkies wil word in Mangaung? Indien dit die geval is, laat jy die jeug in die steek.”
Zuma het onlangs gesê die jeugloonsubsidie is voor die Nasionale Ekonomiese Ontwikkeling en Arbeidsraad (Nedlac), so dit sal alle moontlike uitgangspunte oorweeg en ‘n finale aanbeveling aan die kabinet maak.
Hy het gesê die uitdaging is om gemeenskaplike grond te vind tussen die opponerende uitgangspunte oor die subsidie.
Geweld het verlede Dinsdag uitgebreek toe die Demokratiese Alliansie na Cosatu se hoofkantoor in Johannesburg probeer marsjeer het.
Die DA beskuldig Cosatu daarvan dat hulle die implementering van die subsidie blokkeer en jong mense moontlike werke kos. Cosatu hou vol dat die subsidie bestaande werke sal vervang en werkgewers verryk.
- Volg Nuus24 op
Twitter
SAPA