Nuus24

Gru-treinongeluk: Dodetal styg

2012-07-13 14:04
Kaapstad – Nóg ‘n mens is dood nadat ‘n trein ‘n vragmotor by ‘n spooroorgang in Mpumalanga getref het, het paramedici gesê.

Jeff Wicks van Netcare 911 sê altesaam 20 mense het in die ongeluk omgekom, het Sapa berig.

Hy sê 23 plaaswerkers is beseer, sommige van hulle kritiek.

Die vragmotor was besig om plaaswerkers op die N4 te vervoer toe die trein die voertuig by die Tulluh-spooroorgang naby Malelane getref het.

Die ongeluk het Vrydagoggend omstreeks 07:00 plaasgevind.

Thulani Sibuyi, hoof van Oos-Mpumalanga se departement van gemeenskapsveiligheid, het aan die Agence France Press gesê slagoffers is “uitmekaar geskeur.”

Sibuyi sê dit blyk dat die vragmotorbestuurder “nie mooi gekyk het” voordat hy die oorgang oorgesteek het nie.

Hy sê die trein het die vragmotor getref, waarna die vragmotor “sowat ‘n kilometer of twee ver gesleep is.”

“Mense lê oral,” het 'n ooggetuie vroeër op die toneel aan Jacaranda gesê.

“Verminkte lyke, afgekapte koppe, hande en bene en selfs ‘n hart lê onder die trein,” het die vrou aan die radiostasie gesê.

Volg Nuus24 op Twitter  
Lees meer oor:    mpumalanga  |  malelane  |  treinongelukke
Ad:Retirement Plan from R150/m (RSA Residents Only)
«Terug
Ad:Family Funeral Plan from R36/m (SA residents only)