Rustenburg – Al 34 mynwerkers wat dood is in gevegte met die polisie is geïdentifiseer, het Collins Chabane, die minister in die presidensie, Dinsdag gesê.
“Al die lyke is geïdentifiseer. Een is ‘n buitelander,” het hy gesê.
Hy sê pogings is aangewend om die burger van Lesotho se familie te kontak in verband met sy begrafnis.
Werkers van die Lonmin-myn in Marikana het verlede week met ‘n staking begin en 10 mense, insluitend twee sekuriteitswagte en twee polisiebeamptes, is dood. Die betogings het Donderdag in gevegte met die polisie ontaard en 34 mynwerkers is doodgeskiet.
Meer as 70 is beseer en 260 is in hegtenis geneem.
Chabane sê die ministeriële komitee het met godsdienstige en tradisionele organisasies vergader in ‘n poging om die situasie in Wonderkop weer na normaal te bring.
“Ons het met alle betrokkenes vergader en daar is vordering.”
Phathekile Holomisa, president van die Kongres vir Tradisionele Leiers van Suid-Afrika, sê tradisionele leiers sal later Dinsdag met die myn se bestuur vergader.
“Die bestuur moet verstaan dat daar tradisioneel ‘n tydperk van rou voor en ná die begrafnis is,” het hy gesê.
Hy het verwys na die ultimatum wat die myn aan stakende mynwerkers gegee het om Dinsdagoggend vir werk op te daag, anders kan hulle afgedank word.
– Volg Nuus24 op
Twitter
SAPA