Nuus24

Sondagverkragter: Laaste 'slagoffer' getuig

2012-08-21 13:35
Johannesburg – Die negende beweerde slagoffer van die sogenaamde Sondagverkragter het in grafiese detail oor haar aanval in die hof uitgebrei.

“Hy het my gegroet. Daarna het hy ‘n vuurwapen op my gerig en gesê ek moet doen wat hy sê, anders sal ek seergemaak word,” het die getuie, wat nou 18 jaar oud is, in die hooggeregshofsitting in die Palm Ridge-landdroshof in Alberton gesê.

Sy het teen Johannes Jacobus Steyn, wat die Sondagverkragter genoem word, getuig.

Steyn staan tereg op twee aanklagte van moord, 11 van verkragting, 10 van seksuele aanranding, 10 van ontvoering, een van poging tot seksuele aanranding, een van poging tot ontvoering en twee aanklagte van aanranding.

Hy het skuld ontken op al die aanklagte teen hom.

Die moordaanklagte hou verband met die moord op die twee skoolmeisies Louise de Waal en Lazanne Farmer.

Die tienermeisie het getuig dat sy en haar suster op 7 Maart 2010 na ‘n kafee in Rustenburg gestap het. Sy was 16 jaar oud ten tyde van die voorval.

‘n Wit bakkie het twee keer verby hulle gery en die derde keer langs hulle stilgehou.

Sy sê ‘n man wat ‘n sonbril en ‘n hoed gedra het, het haar gegryp en met haar weggery. Hy het vir haar gesê sy moet haarself met ‘n sokkie, wat op die vloer gelê het, blinddoek.

“Daar was drank op die vloer. Hy het een oopgemaak en dit in my hand gesit. Ek het ‘n paar slukkies gevat en gesê ek wil dit nie meer hê nie.”

Hy het ook ‘n sigaret vir haar aangesteek en vir haar gesê sy moet dit rook.

“Ek het hom gevra hoekom hy my gekies het. Hy het gesê dis omdat ek die mooier en was... dis hoekom hy my gekies het.”

Toe hulle stilhou, het hy haar gedeeltelik uitgetrek en aan haar begin vat.

“Hy het aan my gevat en ek het hom weggestoot en ek het gesê hy moet my uitlos.”

Hy het haar bra gevat en dit onder die sitplek weggesteek.

Sy het beskryf hoe sy seksueel aangerand is. Daarna het hy vir haar gesê sy moet weer haar klere aantrek.

Hy het haar blinddoek afgehaal en dit met haar T-hemp vervang.

“Hy was weg toe ek die hemp afhaal.”

Sy het na die straat geloop, waar ‘n man haar sien huil het.

“Hy het my gevra hoekom ek huil... Toe sê hy ek hoef nie vir hom te sê nie. Hy het my huis toe gevat.”

Volg Nuus24 op Twitter 
SAPA
«Terug