Johannesburg – Reddingswerkers het Woensdag ‘n tiende onwettige myner na die oppervlakte van ‘n ongebruikte goudmyn naby Welkom gebring, het die polisie in die Vrystaat gesê.
Volgens kol. Sam Makhele sal die reddingspoging voortduur so lank as wat die situasie nog veilig is by die ongebruikte Harmony Gold-myn.
Minstens 20 mans is vermoedelik nog ondergrond.
Makhele het vroeër gesê die polisie en reddingspersoneel fokus net daarop om die vasgekeerde “zama-zamas”, soos onwettige myners bekend staan, by die myn uit te kry.
Daar is nog geen aanduiding van moontlike sterftes nie.
Twee onwettige myners het Dinsdag alarm gemaak en gesê hul mede-myners is vasgekeer ná ‘n rotsstorting in die vroeë oggendure.
Die polisie sê hulle het aan die owerhede gesê hulle het vir goud gemyn toe gedeeltes van die myn ineengestort het.
Die maatskappy het die myn toegemaak, maar onwettige mynwerkers, waarvan baie van Zimbabwe, Mosambiek en Lesotho kom, het sonder wettige toesig daarin begin myn.
- Volg Nuus24 op
Twitter
SAPA