Johannesburg – Hewige storms en vermoedelik tornado's het die naweek groot skade aangerig in gebiede in die Vrystaat, berig verskeie plaaslike nuusbronne.
RSG berig dat minstens vyf mense dood is. Talle is ook in die swaar stormweer beseer.
Deneysville, Reitz, Kestell en Bethlehem tel onder die gebiede wat deur die stormweer geraak is. Op Kestel is minstens 55 huise beskadig in wat vermoedelik ook 'n tornado was.
Die provinsiale departement van samewerkende regering sê van die huise wat beskadig is, is drie heeltemal verwoes.
Intussen het Michael Nethavani , 'n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, gesê dit blyk dat dit 'n tornado is wat die Kestel-gebied getref het.
'n Student van Germiston, Eugene Coetzee, 22, was saam met vriende op ’n naweekuitstappie by die Vaaldam by Oranjeville toe ’n tornado 'n grasdak-chalet vernietig het, het
Beeld berig. Hy is dood nadat stukke van die muur op hom geval het.
Coetzee was glo ’n student aan die Universiteit van Noordwes in Potchefstroom.
Drie ANC-jeugliga-lede is naby Betlehem dood nadat die bus waarin hulle gery het waarskynlik deur rukwinde omgewaai is, het die koerant ook berig.
Manapo Mofokeng, 24, wat op die plaas Wonderbron buite Bethlehem woon, is weens erge kopbeserings dood nadat haar sinkhuis weens die wind inmekaar gestort en op haar geval het.
– Lees
hier meer.
– Volg Nuus24 op
Twitter.