Kaapstad – Minstens 19 mense het gesterf en 24 ander is beseer toe ‘n vragmotor en ‘n trein by ‘n spooroorgang in Malelane, Mpumalanga, teen mekaar gebots het, het paramedici gesê.
Netcare 911 se Jeffrey Wicks sê die vragmotor was besig om plaaswerkers op die N4 te vervoer toe die trein die voertuig by die Tulluh-spooroorgang getref het.
Die ongeluk het Vrydagoggend omstreeks 07:00 plaasgevind.
Thulani Sibuyi, hoof van Oos-Mpumalanga se departement van gemeenskapsveiligheid, het aan die
Agence France Press gesê minstens 30 mense het in die ongeluk omgekom.
Slagoffers is “uitmekaar geskeur” en paramedici is nog op die toneel, wat oos van die provinsie se hoofstad, Nelspruit, geleë is, het hy gesê.
Sibuyi sê dit blyk dat die vragmotorbestuurder “nie mooi gekyk het” voordat hy die oorgang oorgesteek het nie.
Hy sê die trein het die vragmotor getref, waarna die vragmotor “sowat ‘n kilometer of twee ver gesleep is.”
“Mense lê oral,” het 'n ooggetuie aan
Jacaranda gesê.
“Verminkte lyke, afgekapte koppe, hande en bene en selfs ‘n hart lê onder die trein,” het die vrou aan die radiostasie gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
SAPA