Johannesburg – ‘n Pa van ses sal Donderdag in die Seshego-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord en 29 van verkragting, het die polisie gesê.
Volgens brig. Hangwani Mulaudzi is die getroude man Dinsdagaand in hegtenis geneem nadat die polisie hom verbind het met bloedvlekke op misdaadtonele wat met die saak verband hou.
“Ná sewe jaar van intensiewe ondersoek glo die polisie nou hulle het ‘n reeksverkragter in hegtenis geneem wat die gemeenskap van Moletjie buite Seshego en omliggende gebiede geterroriseer het sedert 2005,” het Mulaudzi gesê.
“Bloedvlekke wat op twee onderskeie misdaadtonele gevind is, het die verdagte verbind met die moorde op ‘n 14-jarige meisie en ‘n 72-jarige vrou.”
Mulaudzi het gesê die man se modus operandi was om die bewegings van vroue wat alleen woon te bestudeer.
Hy sou deur vensters of deure by hul huise inbreek, hulle met ‘n mes of ‘n vuurwapen dreig en dan verkrag, het hy gesê.
“Forensiese uitslae het getoon dat die monsters wat geneem is by al 29 die sake met dieselfde verdagte verbind kan word.”
‘n Taakspan is gevorm wat die man wat verantwoordelik was vir die verkragtings moes vastrek, het hy gesê.
- Volg Nuus24 op
Twitter
SAPA