Kaapstad – Die lewe van talle studente is waarskynlik gered toe ’n vlieënier daarin geslaag het om sy helikopter weg van geboue te stuur voordat dit ten tyde van ’n noodlanding by die Universiteit van Kaapstad neergestort het.
Die Robinson R44 Raven II-helikopter het meters van die Woolsack-koshuis op die UK se middelkampus die aarde getref.
Die vlieënier, Henry Graham, en sy drie passasiers, Terry February, Petri Germishuys en Joubert Swanepoel, het wonderbaarlik oorleef toe die helikopter op Cross Campus Road ’n noodlanding probeer uitvoer het, maar toe neergestort het. Die passasiers is almal werknemers by die BKS-ingenieursmaatskappy.
Die helikopter het die grond meters van die Woolsack-koshuis, waar 206 mans- en vrouestudente woon, getref.
Graham, glo ’n werknemer by die Hire on Fly Base-maatskappy, is later na die Vincent Palotti-hospitaal in Pinelands gebring nadat hy van hoofpyn gekla het, het André Visser, woordvoerder van die ER24-nooddienste, gesê.
“Die drie passasiers is ongedeerd.”
Die noodlanding het begin toe die helikopter omstreeks 09:00 oor die kampus gevlieg en skielik krag verloor het.
’n Student wat die voorval sien gebeur het, het gesê hy het opgekyk en gesien hoe die helikopter tol voordat sy agterste draaivlerk die toppe van die bome langs die straat getref het.
Die student het gesê hy kon sien die vlieënier sukkel om die helikopter in die lug te hou voordat dit baie vinnig afgekom het aarde toe.
Nuuskierige studente het uitgehardloop om te kyk wat aangaan.
Die Woolsackrylaan-ingang na die middelkampus is deur die reddingsdienste afgesper en studente moes ’n alternatiewe roete vind om by hul klasse uit te kom.
Vier brandweerwaens, een reddingsvoertuig en twee ambulanse het die ingang toegestaan.
Theo Layne, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, het gesê ’n olielek is deur die noodlanding veroorsaak. Dit is met sand toegegooi. Nuuskieriges is in geval van ’n brand op ’n veilige afstand gehou.
Phindiwe Gwebu, woordvoerder van die Burgerlugvaartowerheid (BLO), het gesê hulle het nie veel inligting nie, maar ’n ondersoek sal gedoen word om die oorsaak te bepaal.
Volgens haar was die helikopter se insittendes besig om foto’s te neem toe die noodlanding uitgevoer is.
Gerda Kruger, direkteur van kommunikasie by die UK, het bevestig ’n klein private helikopter moes ’n noodlanding op die middelkampus uitvoer en dat niemand beseer is nie.
Trevor Young, eienaar van Mac Young-helikopters in Mosselbaai wat die Robinson R44 Raven II-helikopter besit, het bevestig dat die helikopter aan ’n Kaapse maatskappy verhuur is.
Hy het gesê hy is huiwerig om die beperkte inligting wat hy het bekend te maak omdat die voorval eers deur BLO ondersoek moet word.
“Dit is ons eerste voorval van dié aard.
“Daar is gewoonlik twee redes hoekom ’n helikopter neerstort – óf weens ’n fout deur die vlieënier óf ’n meganiese fout,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op
Twitter.