Nuus24 WEBWERWE/DIENSTE >

Vrou ná nagmerrie van nege maande gered

2012-07-27 07:32
Durban – 'n Paartjie is in hegtenis geneem nadat hulle 'n jong vrou nege maande lank in hul huis in Eshowe aangehou het, het die polisie in KwaZulu-Natal gesê.

Tydens die jong vrou se nagmerrie het sy die lewe geskenk aan 'n baba, maar die baba is of later dood of doodgebore, het kol. Vincent Mdunge gesê.

Luidens 'n polisieverklaring is die 24-jarige vrou in 'n kamer gevind waar sy vasgebind was met toue.

Daar word beweer dat die vrou, wat glo verstandelik gestremd is, sedert November verlede jaar aangehou word.

Die polisie het toevallig op die vrou afgekom terwyl hulle 'n 44-jarige vrou, wat na bewering betrokke is in 'n komplot om 'n plaaslike tradisionele geneser te vermoor, gesoek het. Hulle het na haar huis gegaan en slegs haar lewensmaat gevind. Hy is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van dagga.

Die 24-jarige vrou het verlede jaar na Eshowe verhuis.

"Sy het 'n 17-jarige veewagter in die gebied ontmoet en op hom verlief geraak. Hy het die gebied in Desember verlaat sonder dat hy geweet het sy is swanger," lui die verklaring.

Die polisie het die baba, wat op 15 Julie gebore is, se lyk in die paartjie se agterplaas gevind.

Die 44-jarige vrou is later in Eshowe in hegtenis geneem. Sy word deur aanklagte van ontvoering, moord en poging tot moord in die gesig gestaar.

Die jong vrou is na 'n hospitaal geneem en reëlings word getref sodat sy traumaberading kan ontvang.

Lt. genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiehoof, het gesê die vrou het tydens haar swangerskap geen toegang tot mediese sorg gehad nie.

"Dit was 'n demoniese daad en die skuldige moet die swaarste moontlike vonnis opgelê word."

Die 44-jarige vrou sal op 30 Julie in die Eshowe-landdroshof verskyn.

Mdunge kon nie bereik word om duidelikheid te kry oor hoekom die vrou aangehou is, of die aanklagte wat teen die man gebring gaan word nie.

– Volg Nuus24 op Twitter
SAPA
Lees meer oor:    misdaad  |  ontvoerings
Ad:Retirement Plan from R150/m (RSA Residents Only)
«Terug
Ad:Family Funeral Plan from R36/m (SA residents only)