Johannesburg – Vyf provinsies is gewaarsku om besonder koue toestande die naweek te verwag.
RSG berig die Suid-Afrikaanse Weerdiens het waarskuwings uitgereik vir die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Oos-Kaap, suidelike Vrystaat en KwaZulu-Natal.
Volgens die waarskuwing sal 'n afgesnyde laagdrukstelsel en kouefront Vrydag oor die land inbeweeg, wat bitter koue toestande, swaar reën, sneeu en sterk wind tot gevolg sal hê.
Sneeu word vir Vrydagaand voorspel in die hoogliggende suidwestelike dele van die Wes-Kaap en die oostelike dele van die Oos-Kaap.
Die weerdiens sê temperature sal tot onder vriespunt daal in dele van die Wes-, Noord-en Oos-Kaap en sneeu word ook in gebiede verwag waar dit nie gewoonlik sneeu nie, het die radiostasie berig.
Belangstellendes stroom intussen na die Swartberg-pas buite Oudtshoorn in die Klein Karoo waar swaar sneeu Vrydagaand geval het. Dit is sowat -1°C in die pas.
Volgens die radiostasie is die pas om veiligheidsredes vir verkeer gesluit en motoriste is gevra om versigtig te bestuur.
Sneeu het ook in die Outeniquaberge in die George-omgewing van die Suid-Kaap geval.
Die weerburo in Pretoria sê Gautengers moet hulle van Saterdagmiddag af staal teen baie koue weestoestande wanneer die kouefront deur die provinsie beweeg.
RSG berig die kwik sal Sondag 'n maksimum van tussen 10 en 13°C bereik, waarna temperature vanaf Maandag geleidelik warmer word. Dit sal Maandag en Dinsdag egter nog baie koud wees.
Hoe lyk dinge in jou geweste? Stuur vir ons foto’s na
fotos@nuus24.comVolg Nuus24 op Twitter