Kaapstad - Die skrywer Petra Müller is vandag “’n onblusbare 75”.
Só sê die ouduitgewer Charles Fryer wat in die jare tagtig saam met haar by Tafelberg- Uitgewers gewerk het. “As Dalene Matthee nog hier was, sou sy gesê het: ‘Skaam jy jou nie voor die Here dat jy nie ouer word nie?’ Maar dit het te doen met goeie gene en blymoedigheid wat elke dag opnuut sprankel.”
Hy sê Müller het “’n ingebore wysheid, ’n springbron van onbesoedelde menslikheid, wat met die jare net toegeneem het”.
“Die wens wat ek vandag vir Petra het, is om die lewe te vier in sy heilige aardsheid. En vir vorentoe: Skryf nog poësie wat asemhaal, wat die stilte besweer – die stilte wat ons omsluit ten spyte van ons baie woorde, ons strome klank, die stilte van ons onbeantwoorde vrae, van ons dooies, van die misterie van God.”
Oor haar digkuns het die literator Louise Viljoen by die toekenning van die Hertzogprys vir Die Aandag van jou Oë in 2005 gesê: “Petra Müller is ’n waardige genoot vir ... Louw se Tristia, dele van Breytenbach se werk, Cussons se Die Swart Kombuis en Opperman se Komas uit ’n Bamboesstok.”
Vir Jeanne Goosen, ’n skrywer wat in die sewentigerjare vir Müller leer ken het toe sy verhaleredakteur by Sarie was, “bestaan daar net een pil wat werk teen sinisme, en dis Petra Müller”.
Die skrywer Hennie Aucamp sê Müller is onteenseglik een van die beste kortverhaalskrywers in Afrikaans. “En as ek dit sê, kyk ek terug oor meer as ’n eeu.
“Op haar beste skryf sy ‘klassieke’ verhale wat haar in geselskap van Jan van Melle, I.D. du Plessis, Abraham H. de Vries, Elise Muller en ander ‘groot kanonne’ plaas. Is dit toevallig dat sy verlangs verwant is aan Elise Muller wat die Hertzogprys vir haar kortverhale gewen het? Ook Petra sou dié gesogte prys vir haar verhale kon verower het.
“Sy hét die Hertzogprys gewen, maar vir haar poësie, wat vir my op ‘poëtiese geregtigheid’ neerkom: Is die kortverhaal in die hand van ’n meester nie ook maar poësie nie?
“In ’n telefoongesprek het Petra onlangs vir my gesê: ‘Om die menswetenskappe te verstaan, moet jyself mens wees’. Met ’n toegewing hier en daar sou ’n mens kon beweer die letterkunde is by uitstek ’n menswetenskap. Het Terentius nie al gesê: ‘Ek is ’n mens: niks mensliks is aan my vreemd nie?’
“Party skrywers is gelukkiger as ander: Hulle is vroeg al geskool in die menskunde. Petra se vader was ’n polisieman, en van hom het sy twee van haar allermooiste verhale gekry: ‘Dis dag, Hans Klou’ en ‘Brooddoek’. Verder het sy in landelike omgewings grootgeword, dié van die Overberg, en M.E.R en Anna Rothmann baie goed geken: mens-mense. Maar die inkyk in die psige van die medemens, dié het Petra verfyn tot iets wat bó wetenskap uitgaan, en wat by gebrek aan ’n woord kuns moet heet. Die kuns, onder meer, van mededoë, van oorwoë vertel, met besondere aandag aan toonwaardes.”
Nèlleke de Jager, uitgewer van Kwela Boeke, het saam met MüllerNuwe Stemme 2 saamgestel. Sy vertel: “Dit sou moeilik wees om haar bydrae tot veral die Afrikaanse boekebedryf na waarde te skat.
“Ontelbaar hoeveelheid skrywers het al by haar insig en kundigheid gebaat?– om maar ’n paar op te noem met wie ek al saam gewerk het: Pat Stamatélos, Kgebetli Moele, Ilse van Staden, Anchien Troskie (die skrywer van Dis ek, Anna). Die boekebedryf sou sowaar ’n leër, dowwer plek sonder Petra gewees het.”
Riana Barnard, ’n uitgewer van Tafelberg-Uitgewers, sê: “As uitgewer is sy sekerlik een van die onbesonge helde. Sy is wel in 1995 bekroon as Boekjoernalis van die Jaar, maar haar bydrae tot die uitgewersbedryf het hoofsaaklik ágter die skerms geskied. Oor menige manuskrip wat onopvallend in ’n plastieksak op haar tafel land en uiteindelik topverkopersukses behaal, plaaslik én in die buiteland, daaroor praat sy nié. In die tien jaar dat sy vir manuskripontwikkeling by Tafelberg verantwoordelik was, is publikasies van dié uitgewershuis nege keer met die Eugène Marais-prys bekroon.”
De Vries, samesteller van Die Afrikaanse Kortverhaalboek, sê: “Wie van Müller se sensuele, malse, aardse verhale net die ‘kontrei’- aspek raaksien, mis die skagte insig in die menslike toestand. Ja, natuurlik is die werwe van haar wêreld die glooiinge van die Rûens. Maar die bestes stuur nie af op die omtes van die kontrei en sy knoetsige bewoners nie, maar op die intes van ons gedeelde menswees: In die ‘hulle’ skuil daar telkens ’n ‘ons’.”