Die eerste omvattende oorsigtentoonstelling in Suid-Afrika van Tretchikoff (1913-2006) Tretchikoff: The People’s Painter het Donderdagaand in die Iziko: Nasionale Kunsmuseum geopen.
Die sleutelwerk van die tentoonstelling The Chinese Girl het skaars twee uur voor die opening aangekom.
“Dit was hittete”, het die kurator, Andrew Lamprecht, duidelik verlig gesê ná drie jaar se harde werk om die tentoonstelling gereed te sien.
“Dié werk is Suid-Afrika se Mona Lisa; meer afdrukke van haar is verkoop as van die Mona Lisa. Dit is die eerste keer nog dat dié oorspronklike werk in Suid-Afrika ten toon gestel word. Dit is in die jare vyftig deur ’n meisie van negentien gekoop, sy het haar bankrekening leeggemaak en ’n ooreenkoms met Tretchikoff aangegaan om dit maandeliks af te betaal.”
Monika Pon Su San wat destyds daarvoor geposeer het, was ook onder die sowat 500 uitgelese gaste. Die tentoonstelling is die geesteskind van die modeontwerper Marianne Fassler wat baie van Tretchikoff se afdrukke besit.
“Ek hou so baie van sy werk, ek vind hom so uitdagend en anti-establishment,” het Fassler gesê. “Enigeen wat sê dat hy nie ’n groot skilder is nie, kan hier sien dat hy was.”
Lamprecht het dit beaam. “Elkeen het sy eie mening oor Tretchikoff, hy lok ’n instinktiewe respons by mense uit. Kom kyk na die oorspronklike werke, so baie van ons ken hom net deur sy afdrukke. Kom met ’n vars oog en besluit self.”
Tretchikoff het afdrukke van sy werke laat maak aangesien hy geglo het kuns moet binne die bereik van die werkersklas wees.
Die grootste uitdaging van die projek was om die werke op te spoor. Tretchikoff het daagliks geskilder en ’n magdom werk gelewer. Sy inkomste uit sy kuns is vergelyk met dié van Picasso.
Die gesegde “Ek lag al die pad bank toe,” is deur Tretchikoff gemunt.
Van die eienaars is deur ’n genealogiese studie nagespeur, het Lamprecht gesê. “Elk van die sowat 60 versamelaars moes oorreed word om vir bykans vier maande van hul geliefde werk afstand te doen.”
Lamprecht is bygestaan deur Tretchikoff se kleindogter Natasha Swift. Van sy vroegste werke asook werke wat hy geskep het gedurende sy gevangenisskap in Java en sy laaste werke wat uit die jare sewentig dateer, is te sien.
En vir diegene wat nie meer oorspronklike werke kan aanskaf nie, is daar troos in die galerywinkel.
’n Sakkie Tretchikoffie is teen R95 te koop, groot en klein kussings met afbeeldings van sy bekendste werke teen R950 en R800 onderskeidelik en elke moontlike werk kan as afdruk gekoop word teen R800 stuk.