Los Angeles – John Travolta is glo in gesprekke om ‘n skikkingsooreenkoms te bereik met een van die mans wat hom aangekla het van seksuele teistering.
Die ster is deur verskeie masseurs van onbehoorlike seksuele teistering beskuldig.
Twee van die mans het regstappe teen hom geneem en eis elk $2 miljoen (R17 miljoen) in skadevergoeding.
Alhoewel die regstappe later laat vaar is, berig
RadarOnline dat Travolta se regspan aan ‘n finansiële skikking werk met een van die mans wat hom aangekla het.
“John Travolta se prokureur is tans in gesprek met een van die aanklaers. Die doel is om baie stil en vinnig ‘n skikkingsooreenkoms te bereik, want John wil hê hierdie skandaal moet oorwaai,” het ‘n bron aan die webtuiste gesê.
“Geen geld is nog betaal nie, maar dit is amper afgehandel. Die partye sal buite die hof skik en Travolta se naam sal nie eers in die skikking wees nie om algehele vertroulikheid te verseker. Daar sal ook ‘n klousule wees wat sê as die man sy storie ooit bekendmaak, sal hy vir twee keer die skikkingsbedrag gedagvaar word.”
Die man, wat tans in onderhandelinge met Travolta se regspan is, beweer hy is in die afgelope twee jaar deur die ster betas. Dié tydperk is binne die beperkinge om ‘n siviele regsgeding in te dien, wat die aanklaer sê hy sal doen as ‘n skikkingsooreenkoms nie bereik word nie.
–
iafrica– Volg Nuus24 op
Twitter