Londen – 'n Britse vrou wat ‘n stukkende baksteen deur ‘n venster van Simon Cowell se huis in Londen gegooi het, moet 12 maande gemeenskapsdiens doen.
Leanne Zaloumis (30) moet sielkundige behandeling kry en sal deur beamptes gemonitor word ná die voorval by die musiekmagnaat se herehuis in Maart.
Regter Robert Winstanley het ook 'n beskermingsbevel uitgereik wat haar verhoed om enige kontak met Cowell te maak.
Die 52-jarige Cowell het nie hofverrigtinge bygewoon nie.
Zaloumis, van Londen, het verlede maand erken dat sy in die besit van 'n baksteen was met die bedoeling om eiendom te beskadig.
Sy het ook erken dat sy 'n venster by Cowell se herehuis stukkend gegooi het.
Max Clifford, Cowell se woordvoerder, het gesê die musiekmagnaat was besig om televisie te kyk toe hy ‘n harde slag gehoor het. Hy het ‘n vrou gesien met ‘n baksteen in haar hand nadat sy deur 'n venster toegang tot sy huis verkry het.
Cowell se sekuriteitspersoneel het die vrou aangehou totdat die polisie opgedaag het.
Volgens Clifford het Cowell aan skok gely en gesê die toneel was “net soos een uit ‘n gruwelfilm”.
– Volg Nuus24 op
Twitter.
Sapa - AFP