Beijing – Chinese owerhede het drie amptenare geskors en 'n vrou om verskoning gevra wat ná 'n swangerskap van sewe maande gedwing is om 'n aborsie te hê.
Die voorval het internasionaal opslae gemaak ná grafiese foto's van die ma wat op 'n hospitaalbed lê met haar dooie baba langs haar, aanlyn versprei is.
Feng Jianmei, 27, is op 2 Junie deur amptenare aangerand en gedwing om haar baba te aborteer omdat haar familie nie kon bekostig om 'n boete van 40 000 yuan (sowat R52 000) te betaal omdat sy 'n tweede kind gehad het nie. Dis in China onwettig om meer as een kind te hê.
Die plaaslike regering van Ankang-stad in China se Shaanxi-provinsie, waar Feng woon, het gesê die onderburgemeester het Feng en haar man in die hospitaal besoek, hulle om verskoning gevra en gesê amptenare sal geskors word hangende 'n ondersoek.
"Ek is vandag hier namens die munisipale regering om julle te kom sien en julle opreg om verskoning te vra. Ek hoop julle kan begrip hê," het Du Shouping Vrydag volgens 'n berig op die plaaslike regering se webwerf gesê.
Die amptelike
Xinhua-nuusagentskap het berig dat drie amptenare geskors is.
– Volg Nuus24 op
Twitter.
SAPA