Nuus24 WEBWERWE/DIENSTE >

Breivik: 'Ek wou almal op die eiland doodmaak'

2012-04-19 15:00
Oslo – Anders Behring Breivik het Donderdag aan ‘n hof in Oslo gesê hy wou “almal doodmaak” in sy Utoeya-slagting, nie net 69 mense nie.

Hy was glo ook van plan om ‘n voormalige eerste minister te onthoof.

“Die doel was om almal dood te maak,” het die 33-jarige regse ekstremis aan die hof gesê.

Hy sê hy het eers beplan om die voormalige eerste minister, Gro Harlem Brundtland, te vang en haar op ‘n video te onthoof, waarna hy dit op die internet wou laai.

“Ek staan vir Utoeya en wat ek gedoen het en sal dit weer doen,” het hy gesê terwyl oorlewendes en familielede van die slagoffers stilweg gehuil en hul koppe in afgryse geskud het.

Breivik is op verhoor vir terreurdade nadat hy op 22 Jule die lewens van 77 mense geëis het.

Agt mense is dood in ‘n bomaanval wat gerig was op geboue waarin die kantore van die eerste minister, Jens Stoltenberg, was, wat nie ten tyde van die aanval teenwoordig was nie.

Ná die aanval het hy na die Utoeya-eiland gereis waar hy, geklee soos ‘n polisiebeampte, vir meer as ‘n uur op honderde mense by ‘n jeugkamp van die arbeidersparty geskiet het. In hierdie aanval is 69 mense, meestal tieners, dood.

Volgens die polisie was daar 569 mense op die eiland op die dag van die aanvalle.

Nietemin hou Breivik vol hy is nie ‘n “kindermoordenaar” nie en sê hy was onder die indruk dat daar ‘n ouderdomsbeperking van 16 was om die kamp by te woon. Hy sê dit is nie wenslik om iemand onder die ouderdom van 18 dood te maak nie.

Hy het uitgelig dat “daar geen beter politieke teikens in Noorweë was daardie dag nie” en het bevestig dat meeste van die mense wat hy doodgeskiet het “leiersposisies” in die jeuggroep gehad het, wat hulle “kategorie-B” verraaiers maak.

Op ‘n vraag oor hoe dit voel om so ‘n skietery uit te voer, het Breivik erken dit was “ongelooflik moeilik om te doen... dit gaan teen die mens se natuur op baie wyses.”

Maar, het hy volgehou, Noorweegse en Europese amptenare het hom en ander “militante nasionaliste” gedwing om “vuurwapen-gebaseerde aanvalle” uit te voer, want hulle maak dit so moeilik om plofstof in die hande te kry.

“Ons word gedwing om dit te doen, want... amptenare het ons geleenthede weggeneem om plofstof te gebruik,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat hy dit sou verkies om nog ‘n bom te laat ontplof.

“Dit is maklik om ‘n knoppie te druk... Baie, baie moeiliker om iets so barbaars soos ‘n skietaanval te loods,” het hy aan die hof gesê.

– Volg Nuus24 op Twitter

AFP
Lees meer oor:    anders behring breivik  |  noorweë  |  oslo-skieter  |  hof
Ad:Retirement Plan from R150/m (RSA Residents Only)
«Terug
Ad:Family Funeral Plan from R36/m (SA residents only)