Londen – Die polisie het Dinsdag ‘n joernalis wat vir Rupert Murdoch se
Sun-koerant werk in verband met korrupsie in hegtenis geneem.
Dit vorm deel van die ondersoek wat gesentreer is rondom aantygings van meeluistering deur joernaliste van Murdoch se koerante.
Die onbekende 37-jarige man is omstreeks 06:00 by sy huis in die noorde van Londen aangehou, het Londen se metropolitaanse polisie gesê.
News International, die Britse arm van Murdoch se News Corp-groep, het bevestig dat die man vir die
Sun gewerk het.
Speurders het ook ‘n 29-jarige polisiebeampte van die Sussex-polisiemag in die suide van Engeland in hegtenis geneem.
Altesaam 43 verdagtes is reeds in hegtenis geneem deur speurders wat vir Operation Elveden werk. Dit is ‘n ondersoek oor onwettige betalings wat deur joernaliste aan die polisie en openbare beamptes gemaak is in ruil vir inligting.
Hierdie ondersoek loop parallel met die hoofondersoek oor aantygings van meeluistering deur joernaliste by News International.
– Volg Nuus24 op
Twitter
Reuters