Sirië – Aktiviste het 'n video vrygestel waarin burgermagte wat die Siriese regering ondersteun, glo talle burgerlikes doodmaak, het die
BBC berig.
Die nuusbron beskryf die aanval as die derde massamoord in een week.
Altesaam 13 fabriekswerkers is gedwing om van 'n bus af te klim en is deur shabiha-lede in 'n dorp naby Qusair, in die weste van die land tereggestel, het die aktiviste gesê.
Volgens korrespondente word 'n groep lyke met afgryslike beserings in die video gewys.
Die Verenigde Nasies (VN) se menseregte-raad gaan binnekort vergader om die geweld in Sirië te bespreek.
Daar word verwag dat hulle die pro-regeringsmagte gaan blameer vir verlede week se massamoord in Houla waarin meer as 100 mense dood is, insluitend 49 kinders.
'n Siriese ondersoek het Donderdag in verband met die moorde gewapende rebellegroepe vir die moorde blameer.
Susan Rice, die Amerikaanse ambassadeur by die VN, het dié bevinding as 'n "blatante leuen" afgemaak en gesê daar was geen feitlike bewyse nie.
Donderdagaand het aktiviste twee video's op die internet gelaai wat die lyke van 13 mans gewys het wat volgens hulle vroeër die dag in al-Buwaida al-Sharqiya, 'n dorp tussen Qusair en die stad Homs, vermoor is.
– Volg Nuus24 op
Twitter.