Nuus24 WEBWERWE/DIENSTE >

Iran: Soektog na oorlewendes afgelas

2012-08-12 19:39
Tehran, Iran – Reddingswerkers het Sondag hul soektog na oorlewendes afgelas nadat twee aardbewings die noordwestelike deel van Iran getref het waarin minstens 250 mense dood en meer as 2 600 beseer is, het die staatstelevisie berig.

Minstens 20 dorpe is heeltemal platgevee.

Ahmad Reza Shajiei, 'n senior regeringsbeampte wat in beheer is van reddingsoperasies, het gesê meer as 5 000 tente is opgerig om skuiling te bied vir meer as 16 000 mense wat haweloos gelaat is.

Duisende mense het die nag buite deurgebring nadat die kragtige aardbewings dorpe platgevee en huise beskadig het. Die twee aardbewings was gevolg deur 36 naskokke.

Die Mehr-nuusagentskap het berig dat altesaam 277 mense dood is.

Die staatstelevisie het berig 44 000 kospakkies en duisende komberse is in die omgewings versprei wat deur die aardbewings geraak is.

Meer as 1 100 reddingswerkers het regdeur die nag gewerk om diegene wat in die puin vasgekeer was te red. Sowat 15 honde is gebruik om na oorlewendes te soek.

Die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) het berig dat die eerste aardbewing Saterdag het 'n grootte van 6,4 gehad. Die tweede aardbewing was 6,3 en het 11 minute na die eerste een voorgekom.

Beamptes het twee dae van rou in die oos Azerbaijan-provinsie afgekondig.

Mostafa Mohammad Najjar, minister van binnelandse sake, het gesê die regering sal fondse beskikbaar stel vir die herbouing van huise wat in die aardbewing verwoes is.

Volgens Najjar het verskeie buitelandse lande hulp aangebied maar hy het gesê Iran het nie hulp van buite nodig nie en kan die situasie hanteer.

Hy het nie die name van die lande bekendgemaak nie.

– Volg Nuus24 op Twitter.
 
Sapa - AP
Lees meer oor:    iran  |  sterftes  |  aardbewings
Ad:Retirement Plan from R150/m (RSA Residents Only)
«Terug
Ad:Family Funeral Plan from R36/m (SA residents only)