Parys, Frankryk – 'n Twee-en-dertigjarige man het erken dat hy verantwoordelik is vir vyf seksaanvalle by 'n gewilde vakansiebestemming in sentraal-Frankryk, insluitend 'n aanval op 'n 11-jarige meisie, het staatsaanklaers Saterdag gesê.
Kampeerterreine in die Ardeche-streek is gevra om hul sekuriteit op te skerp ná Woensdag se aanval op die 11-jarige meisie wat verbind word met 'n reeks soortgelyke aanvalle die afgelope paar weke.
"Hy het erken dat hy die aanvaller is," het Franck Alzingre, staatsaanklaer, tydens 'n mediakonferensie gesê.
"Hy het ook erken dat hy soortgelyke dade in Julie by kampeerterreine in die Ardeche-streek gepleeg het."
Sy DNS en 'n kunstenaar se beeld van sy voorkoms, het gehelp dat hy Vrydag in hegtenis geneem is, het Alzingre gesê.
Die meisie is Woensdag in die vroeë oggendure deur die man aangeval terwyl sy in 'n tent langs haar jonger suster by 'n kampeerterrein by Saint-Didier-sous-Aubenas, in die suide van die Ardeche-streek, geslaap het.
Die polisie het vroeër gesê sewe meisies tussen die ouderdom van sewe en 12 is die afgelope ses weke in die omgewing aangeval.
– Volg Nuus24 op
Twitter.
Sapa - AFP