Bagdad – Minstens agt mense is Maandag buite die noordelike stad Mosul in Irak dood toe ‘n motorbom ontplof het, het amptenare gesê.
Dit is die jongste voorval in ‘n rits aanvalle wat die land se Sjiïete teiken sedert die VSA verlede maand uit die land onttrek het.
Geweld het opgevlam in Irak sedert die laaste Amerikaanse troepe die land verlaat het. Minstens 150 mense is sedert die begin van die jaar dood in ‘n rits bomontploffings.
Meeste van die aanvalle blyk of dit op Irak se Sjiïtiese meerderheid gemik is. Dit wil voorkom of Sunni-rebelle daarop uit is om die regering, wat grotendeels uit Sjiïtiese Moslems saamgestel is, te ondermyn.
Die ontploffing Maandag het in ‘n Sjiïtiese streek buite Mosul, sowat 360 km noordwes van Bagdad, plaasgevind, het ‘n polisiebeampte gesê.
‘n Amptenaar by Mosul se Al-Jomhouri-hospitaal het die dodetal bevestig en gesê dat minstens ses mense in die aanval beseer is.
Beide amptenare het op die voorwaarde van anonimiteit gepraat, aangesien hulle nie met die media mag praat nie.
‘n Lid van die stad se plaaslike raad, Qusai Abbas, het gesê die motorbom het naby ‘n groep huise ontplof waar lede van die Shebek-minderheidsgroep woon.
– Volg Nuus24 op
Twitter
AP