Bagdad – Irak het reeds 34 mense vanjaar tereggestel, vergeleke met die totaal van 68 wat verlede jaar gehang is, het Haidar al-Saadi, ‘n woordvoerder vir die departement van justisie, Donderdag gesê.
Vanjaar se totaal sluit in twee vroue en ‘n buitelander van Sirië af. Verlede jaar se totaal het drie vroue en drie buitelanders – ‘n Tunisiër, ‘n Egiptenaar en ‘n Marokkaan – ingesluit.
“In 2011 is 68 mense tereggestel,” het Saadi aan die nuusagentskap
AFP gesê.
“Al die teregstellings is deur middel van die galg uitgevoer en 99% van die mense wat tereggestel is, was aangekla van misdade verwant aan terrorisme.”
Saadi het erken dat 34 mense reeds vanjaar tereggestel is, maar het aantygings ontken van Navi Pillay, die hoë-kommissaris van menseregte vir die Verenigde Nasies (VN), dat almal op dieselfde dag tereggestel is.
“Hulle is in groepe sedert die begin van die jaar tereggestel,” het hy gesê.
Pillay het Dinsdag ‘n beroep daarop gedoen dat die doodstraf finaal afgeskaf word.
Die VN skat dat meer as 1 200 mense sedert 2004 in Irak tereggestel is.
– Volg Nuus24 op
Twitter.
Sapa - AFP