Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Beste leser

2012-08-05 00:38
Oor die einde van die wêreld is seker al ontelbare boeke geskryf en nog is dit het einde niet, smaak dit my.

Nuut in die boekwinkels is nou ’n boek oor einste dié onderwerp deur Rapport se Johannes de Villiers. En hy gee sommer ’n paar wenke oor hoe ’n mens dié verskrikking kan oorleef.

Op bl. 3 vertel hy hoe en waar die idee vir sy jongste boek ontstaan het. Saam met Hanlie Malan het hy ook die uitbeelding van die aarde se verwoesting op die voorblad van Rapport Boeke gekonseptualiseer.

Blaai na bl. 4 vir die verhaal van Antjie Krog se stalker en die “geboorte” van haar boek in ’n drukpers, wat sterk herinner aan die een waar sy eens gewerk het.

Op bl. 6 en bl. 7 kom ons tot verhaal met drie kortverhaalbundels wat volgens die resensente vir verskillende lesers waarde sal hê. Gaan lees oor watter bundel word gevra: Maar waar is die ander se stories dan?

Bloots, ’n bundel met meer as 50 stories, is ’n welkome toevoeging tot die ylerige landskap van erotiek in Afrikaans, skryf Riette Rust op bl. 8.

Lesers ken Wilna Adriaanse as skrywer van liefdesverhale. Maar haar jongste roman, ’n Klein lewe, is ’n beduidende wegbreek van haar gewone, meen Dineke Volschenk.

Aan die hand van briewebundels wat onlangs verskyn het en wat nog gaan verskyn, skryf Cas van Rensburg oor ’n tyd toe briefskryf ’n kuns was. Maar dié tyd is haas verby. Dankie dan vir uitgewers wat wel nog bundels vol briewe uitgee, sê hy.

In Onder my Literêre Laken skryf Rachelle Greeff oor hoe die beoordeling en toekenning van boekpryse die wêreld kan laat gons én murmureer.

Diek Grobler, stripkunstenaar, herstel ná ’n tragiese ongeluk. Ons innige meegevoel met hom en sy familie. Op die agterblad verskyn dié keer al die boeke op die Booker-langlys.

Met die komplimente van Exclusive Books kan twee lesers ’n boekgeskenk ter waarde van R500 elk wen. Stuur jou naam en kontakbesonderhede teen einde Augustus aan Rapport Boeke, Posbus 8422, Johannesburg 2000.

Die uitgewer Jacana skenk vyf eksemplare van Una van der Spuy se Old Nectar: A Garden for all Seasons. As jy ’n boek wil wen, stuur jou besonder­hede na die bostaande adres.

Tot ’n volgende keer.
Anastasia

«Terug