Share

‘Ek gaan waarskynlik nog mense doodmaak...’

’n Nuwe roman van Lauren Beukes is pas uitgereik. Kay-Ann van Rooyen het met haar gesels.

Met haar vierde roman pas in Kaapstad uitgereik, lyk Lauren Beukes se dagboek soos dié van ’n popster op ’n internasionale toer:
Johannesburg, Londen, terug vir twee weke, weer Londen, Australië, die VSA, ­Lagos...

Hier in ’n piepklein koffiewinkel in Kloofstraat op ’n snerpendkoue Vrydagoggend is hierdie ster van die plaaslike boek­toneel, pienk hare en al, net ’n local wat weet die worsbroodjies op die spyskaart is hoogs aan te beveel.

In Suid-Afrika koop ons min boeke. Hoeveel mense hier weet haar boeke is al in 26 tale vertaal, dat verskeie internasionale uitgewers die bod opgejaag het om die publikasieregte vir haar derde roman, The Shining Girls, te kry en dat Leonardo DiCaprio se produksiemaatskappy die ­opsie bekom het om dit in ’n TV-reeks te omskep?

As jy al Beukes se boeke gelees het, is jy een van dié wat met groot afwagting uitgesien het na die verskyning van ­Broken Monsters.

Dis ’n speurverhaal-riller wat in Detroit in die VSA afspeel. Die halwe liggaam van ’n kind wat aan die halwe karkas van ’n hert geheg is, word in ’n tonnel gevind. Dan is daar ’n tweede en derde slagoffer, ook op ’n ontstellende manier “omvorm”.

Gabriella Versado, die enkelma van ’n tienerdogter en ’n speurder, lei die span wat dié raaisel moet ontrafel.

“Die idee vir dié storie het begin met ’n prentjie in my kop, van ’n liggaam wat gevind word, half-seun en half-hert, en die speurder wat wonder wat het ons hier, en waar is die ander helftes?” sê Beukes.

“Wanneer ek gaan sit en skryf, weet ek altyd hoe die storie begin en eindig en die belangrikste knope in die verhaal. Dít moet gebeur en dát moet gebeur om by die einde uit te kom. Verder is dit koershou soos om in die donker op die oop see teen die wind in te seil sodat jy jou ­eilandbestemming kan bereik.”

Die verhaal gaan onder meer oor “gebroke drome, gebroke mense, kreatiwiteit, die internet, asook Detroit as ’n simbool van die sterfte van die Amerikaanse droom”.

Dié stad was op ’n tyd bekend as die outomobiel-hoofstad van die wêreld, maar met die sluiting van die motorfabrieke het werkloosheid en armoede toegeneem. Die stad het die versinnebeelding geword van alles wat verkeerd is met Amerika.

“As jy egter verby die armoede en verval kyk, sal jy sien daar is ’n energie en ’n florerende kunstoneel,” sê Lauren. “Detroit is ’n bietjie soos Hillbrow. Dis my manier om weer oor Hillbrow te skryf.”

Sy het soos altyd haar navorsing deeglik gedoen, “soos ’n speurder te werk sou gaan om ’n saak op te los”. Sy het met baie mense van Detroit gepraat – sowel aanlyn as op twee besoeke aan die stad. Mense praat makliker met ’n romanskrywer as met ’n joernalis, sê hierdie oudjoernalis. Heimlik hoop hulle hul storie sal in die verhaal opgeneem word.

Sy het onder meer ’n aanlyn soektog na taksidermie gedoen en só ’n meisie in Detroit opgespoor wat diere opstop. Sy het ’n lang Skype-gesprek met haar gehad – die manier waarop sy haar werk beskryf het en ’n snaakse storie oor ’n kangaroe wat sy opgestop het, is net só in die boek gebruik. “Daar is heelwat goed in die boek wat ek nie kon uitdink nie.”

Sy het met haar besoek aan die stad ’n gids gehad, die taksidermis se ekskêrel, wat haar rondgery het in ’n lykswa van ’n begrafnisondernemer, haar bekend gestel het aan kunstenaars en vir haar vergesogte ware stories vertel het. Sy het in ’n sopkombuis gewerk en met hawelose mense gesels, en een se lewensverhaal het ’n karakter geïnspireer. Sy het polisiemanne en speurders uitgevra. Dit het gehelp met die motiewe vir die moorde – en met hul swart humor is ’n hele paar staaltjies tot die storie bygedra.

Beukes het haar eerste roman, Moxyland, geskryf as deel van haar meestersgraad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.

Dit het haar ’n bietjie meer as vier jaar geneem om klaar te maak omdat sy in hierdie tyd as ’n joernalis gewerk het.

“ ’n Gebrek aan selfvertroue het gemaak dat ek aanhou oorskryf en skaaf het aan die storie totdat die universiteit gedreig het om my uit te skop as ek nie nóú klaarmaak nie, en toe het ek dit binne drie maande voltooi.”

Daarna het elke roman haar ’n jaar-en-’n-bietjie geneem, want sy skryf nou heeltyds. Hierdie ma van ’n vyfjarige dogtertjie is buitengewoon produktief. Benewens haar romans skryf sy ook kortverhale (drie tot dusver vanjaar) en strokiesprentverhale. (Sy lê binnekort ’n idee aan ’n groot uitgewer voor waaraan sy saam met ’n vriend, Dale Halvorsen, werk.)

Dis juis Halvorsen ’n ontwerper wat as Joey Hi-Fi bekend staan, wat elk van die besonderse voorblaaie van die plaaslike uitgawes van Beukes se boeke ontwerp het. “Hy is ’n genie,” sê sy.

Gaan ons binnekort ’n fliek of ’n televisiereeks sien wat gegrond is op ’n Beukes-boek?

“Ken jy iemand met miljoene dollars? Stuur hulle na my kant toe. Dit sou fantasties wees as dit gebeur en hulle vir my sê Leo gaan die hoofrol speel... Maar hierdie soort ding neem gewoonlik tussen vier en tien jaar om te gebeur, indien ooit.”

En skryf sy al aan die volgende boek?

“Ek moes vandag storie-idees voorgelê het, maar ek het te veel rondgehardloop. Ek het ’n paar idees, een Amerikaanse storie en drie of vier Suid-Afrikaanse stories.

“Ek wil die een of ander tyd Zoo City 2 doen. Die internasionale uitgewers sou egter eerder nog ’n misdaadriller wou hê met baie lyke. Dis die sexy, koel soort boek wat in supermarkte en op lughawens verkoop. The Shining Girls was juis in Tesco op die rakke. Dis deels hoe dit ’n topverkoper van 100 000 eksemplare geword het.

“Ek gaan egter nie aan die druk toegee nie. Hulle weet my romans verskil almal drasties van mekaar. Ek skryf waaroor ek wil, maar ek moet my verwagtinge oor geld dienooreenkomstig aanpas. Ek sal waarskynlik nog mense doodmaak, maar daar sal nie weer ’n reeksmoordenaar wees nie.

“Hulle weet ek is nie ’n cookie cutter-skrywer nie.”

Kay-Ann van Rooyen is ’n vryskut-teksredakteur.

* Lees ons resensie van Broken Monsters hier.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 895 votes
No! It's time to move on ...
33% - 436 votes
Vote
Rand - Dollar
18.82
+1.1%
Rand - Pound
23.53
+1.1%
Rand - Euro
20.17
+1.2%
Rand - Aus dollar
12.31
+0.7%
Rand - Yen
0.12
+1.8%
Platinum
922.30
-0.4%
Palladium
961.50
-2.9%
Gold
2,346.57
+0.6%
Silver
27.58
+0.5%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,344
+1.3%
All Share
75,298
+1.3%
Resource 10
63,206
+1.8%
Industrial 25
103,576
+1.0%
Financial 15
16,027
+1.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE