Rapport

En dan gebeur die lewe...

Deur: Margot Pakendorf 2012-06-30 15:18
Toe die Goethe-instituut ’n uitnodiging stuur vir die bekendstelling van Auma Obama se lewensverhaal dog ek ja wat, sy ry lekker op haar beroemde halfbroer (sy het hom eers as volwassene ontmoet in die 1980’s) se roem.

Ek woon dit toe wel by, weliswaar langtand.

Maar was ek bly dat ek gegaan het! Sy is so sterk, welsprekend en intelligent soos haar broer. Toe die vrou wat haar moes bekend stel haar boek langdradig begin opsom, onderbreek sy haar summier, sê sy is ongemaklik daarmee, vra kan sy buitentoe gaan totdat die vrou klaar is en dan vir vrae terugkom? Sy vat duidelik nie kaf van kabouters nie, dog ek.

Van kleins af het Auma Obama in opstand gekom teen die paternalistiese stelsel in Kenia wat meisies en vroue onderdanig aan mans gehou het. Sy was die enigste dogter in die familie en het gevoel niemand neem haar ernstig op nie.

Sy bestudeer toe Duits op skool met die idee dat studie in Duitsland ’n uitkoms sou wees. Inderdaad vaar sy toe ook so goed dat sy by ’n Duitse universtiteit aanvaar is – maar sonder haar pa se toestemming kon sy nie ’n paspoort kry nie. Haar ma het nie getel nie, haar pa moes dit goedkeur.

Obama was oortuig haar pa sou haar nooit as te nimmer toelaat om alleen die land te verlaat nie. Toe vra sy gewoon nie sy toestemming nie. Die Duitse ambassade het dit toe op ’n manier bewimpel en sy is Duitsland toe, waar sy haar vryheid verkry. En ’n doktorsgraad in Duits.

Ook haar boek, met die titel Das Leben kommt immer dazwischen, is in Duits geskryf en later in Engels vertaal (blykbaar nie te waffers nie – toe sy daaruit voorlees, het sy voortdurend van die uitdrukkings bevraagteken) as And Then Life Happens.

Haar pa het haar in haar studentewoonstel besoek en hulle het so goed moontlik met mekaar versoen geraak. ’n Mens sou dink haar pa sou die een wees wat haar strewe na kennis en vryheid kon verstaan. Hy is self as skrander geëien en het, toe Kenia nog nie ’n universiteit gehad het nie, ’n beurs gekry om aan die Hawaiïese Universiteit te studeer. En het later self ’n doktorsgraad in ekonometrie aan ’n vooraanstaande universiteit in die VSA behaal.

Maar sy was ’n vrou.

In haar boek worstel sy dan ook met haar identiteit as vrou, as mens van Afrika, as ’n Keniaan wat tuis voel in Duitsland en die Duitse taal. Die gelaaide verhouding met haar pa en haar lewensomstandighede – toe haar pa met sy vrou van die VSA af gekom het, moes sy as jong kind by hulle en hul gesin gaan woon en het haar ma lank nie gesien nie – is ook iets waarmee sy worstel.

Hulle was soms bitter arm toe haar pa in onguns verval het en sy hoë pos in die staatsdiens kwyt was.

Die ondertitel van die Duitse weergawe is Stationen einer Reise, haar moeilike reis van ondergeskiktheid en onbelangrikheid na selfverwesenliking en vryheid.

Sy het die aand by die Goethe-instituut keer op keer gesê sy is deeglik daarvan bewus dat sy in die openbare oog is vanweë haar van en haar beroemde halfbroer (“my little brother”), maar dat sy doelbewus alle platforms aangryp om haar vir ’n groter rol vir vroue te beywer.

En sy probeer om Afrika met sy uiteenlopende lande as net so divers soos byvoorbeeld Europa aanvaar te kry. Sy vererg haar bloedig as daar van Afrika gepraat word asof dit een land is. Elke keer as sy die enigste vrou en die enigste swart mens op ’n paneel is, maak sy ’n punt daarvan om haar mede-paneellede daarop te wys dat dit onhoudbaar is.

In Kenia het sy ’n beweging begin om meisies op te hef en selftrots te kweek. Sy het immers self die moeisame pad van ’n sterk, slim meisie gestap wat die juk van ’n minagtende stelsel afgewerp het.

By die boekbekendstelling was daar ’n gemengde gehoor, wit en swart, inheems en buitelands, almal meegesleur deur haar. Sy het in vraetyd daarop gewys ’n mens moet vir jou regte opstaan, dat alle Suid-Afrikaners werk moet maak van die geleenthede in die land en nie in rassisime en pessimisme verval nie. Sy is toegejuig.

Dis jammer dat sy net by die Goethe-instituut in Johannesburg, een aand in Duits en een in Engels, en in ’n restaurant in Kaapstad beleef kon word.

Margot Pakendorf is ’n vryskutskrywer.


Auma se ontmoeting met Barack

“Our father was someone from whom everyone expected too much,” I said, when we had finished eating. “He didn’t know how to defend himself against the many demands made on him. His sense of duty toward the larger Obama family was very strong. But the reverse was unfortunately not always the case.”
“What do you mean by that?” asked Barack. We were now sitting in his living room. While we ate, I had tried to explain to my brother the phenomenon of the “chosen ones”, for he just couldn’t understand how a single person could be expected to assume responsibility for an extended family.
“I understand that it’s hard for you to grasp,” I replied. “I basically feel the same way. But it’s simply what our tradition requires.
“There were times when there wasn’t even enough money for my school fees, and I had to watch our father give away everything he had left to a relative. He was always confident that we would somehow get by.”
Against my will, my words had sounded despondent.
“Did you ever object to that?” Barack asked sympathetically.
“Not really. As an African child, you’re brought up not to argue with your parents or criticize them.
“But even if you dared to raise objections, our father always answered with the words: ‘I’ll take care of everything.’?” I sighed.
“It was difficult with him. For just as he helped others, he expected that people would help him too when it was necessary.”
“And that didn’t happen?”
“Not really, in comparison to what he provided,” I replied.
“Even relatives he supported for many years were not always willing to help him?” Barack looked at me uncomprehendingly.
“The old man, as our father was always called, was a prisoner of his own principles.
“He didn’t want to back away from his position, according to which you always, whatever situation you were in at the moment, had to provide for the extended family.
“I found that this could lead too easily to exploitation and
dependence. Those who had nothing didn’t really feel responsible for getting themselves out of their misery.” – Uittreksel uit: And Then Life Happens
deur Auma Obama.


«Terug