Share

Hemel én seks op hierdie aarde

Die lewe ná die dood deur Hank Hanegraaff. Uitgewer CUM.
Prys: R179,95. Resensent: Jean Oosthuizen

Daar is min geestelike boeke wat die kasregisters so laat klingel soos boeke wat handel oor die lewe ná die dood.

Dit is verstommend met hoeveel sekerheid skrywers van sulke boeke lesers in detail kan vertel van die hemel en die hel.

In elkeen van hierdie boeke word ’n mens iets nuuts wys. In Hank Hanegraaff se nuutste boek, Die lewe ná die dood, het ek vir die eerste keer tot die ontdekking gekom daar sal seks in die hemel wees.

Dié Amerikaanse teoloog en pa van 12 kinders meen as dit by seks kom, kan Playboy nie by die Bybel kers vashou nie.

Hy verklaar met groot stelligheid daar sal seks in die hemel wees omdat God seks in Eden geskep het vóór die sondeval (bl. 56). Diegene wat hulle op grond hiervan wil bekeer moet liewer eers die boek lees. Hoewel seks in die hemel aardse seks ver sal oortref, sal dit nie ingevolge die seksuele daad wees nie.

Diereliefhebbers sal bly wees om te hoor die kans is baie groot dat jy en jou geliefde troeteldiere mekaar weer in die hemel sal raakloop. Maar ook hier bokspring die skrywer. Omdat die siel van die dier volgens hom kwalitatief van die siel van die mens verskil, twyfel hy of dit die dood van sy liggaam kan oorleef.

Wanneer hy oor die hemel skryf, is daar by hom geen twyfel dat “God ons fisieke karkasse sal laat opstaan” nie (bl. 30).

Daar is ook geen onduidelikheid waar die hemel is nie. Anders as sommige ander hemelkenners is die hemel nie vir hom 'n plek iewers in die kosmos met pêrelpoorte en goue strate nie.

Wanneer God die bevel gee, sal al die dooies wat gered is weer met opgestane liggame van “fisieke vleis en bloed op hierdie fisieke planeet loop”.

Natuurlik word elke stelling met 'n rits Bybelverse gestaaf. ’n Mens kan egter nie help om te wonder of daar ná al die eeue plek vir almal gaan wees op die nuwe aarde nie.

Skrywers soos Rob Bell, wat nie 'n vuur-en-swael-teologie predik nie en die bestaan van 'n ewige verdoemenis bevraagteken, word behoorlik die kop gewas. Vir dié skrywer is dit doodgewoon gesonde verstand dat daar 'n hel moet wees. Soos dikwels die geval met konserwatiewe teoloë moet ’n mens toegee hy is konsekwent in sy redenasie dat daar sonder ’n hel geen behoefte aan redding is nie.

Adolf Hitler en Gandhi is skynbaar albei op pad hel toe, maar sal darem nie ewe swaar gestraf word nie. Net soos daar in die hemel grade van beloning sal wees, sal daar ook grade van straf in die hel wees.

Vir my was die leesbaarste deel van die boek die hoofstukke wat handel oor amper-dood-ervarings. Hier openbaar die skrywer 'n onverwagse kritiese nugterheid. Hy waarsku dat sulke ervarings versigtig beoordeel moet word en niks bydra tot die Bybelse voorstelling van die dood en die hiernamaals nie.

Jean Oosthuizen is ’n vryskutjoernalis.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 946 votes
No! It's time to move on ...
33% - 464 votes
Vote
Rand - Dollar
18.80
+1.1%
Rand - Pound
23.49
+1.3%
Rand - Euro
20.10
+1.5%
Rand - Aus dollar
12.28
+1.0%
Rand - Yen
0.12
+2.8%
Platinum
923.40
-0.2%
Palladium
957.50
-3.3%
Gold
2,336.75
+0.2%
Silver
27.20
-0.9%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,358
+1.3%
All Share
75,371
+1.4%
Resource 10
62,363
+0.4%
Industrial 25
103,903
+1.3%
Financial 15
16,161
+2.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE