* Die boek kos R185, en is ook beskikbaar by Kalahari.com en as ’n e-boek teen R146.
Met die inhuldiging van Nelson Mandela as Suid-Afrika se eerste demokratiese president in 1994 het Donna Bryson, ’n vryskutjoernalis en skrywer, die seremonie saam met ’n gesin in Soweto dopgehou. Mense het met hul vuiste omhoog gestaan en die nuwe volkslied gesing. Hulle sien toe Mandela staan met sy hande oor sy hart.
Dit was ’n geringe, maar kragtige gebaar, en was simbolies van die winde van verandering in die land.
Bryson skryf toe It’s a Black White Thing teen die agtergrond van die opspraakwekkende gebeure by die Universiteit van die Vrystaat (UV) – veral die voorval waarin vier wit studente van die manskoshuis Reitz vyf swart skoonmakers verneder het – en die weerstand teen transformasie by dié universiteit.
Sy het besef die UV is eintlik ’n mikrokosmos van die res van die land.
Dié Amerikaanse skrywer, wie se eerste buitelandse werkopdrag haar in 1993 na Suid-Afrika gebring het, het verskeie jare in Suid-Afrika geleef. Sy het in 2008 na Johannesburg teruggekeer as burohoof van Associated Press (AP) en het dié pos tot einde 2012 beklee. Sy het verskeie kere na Bloemfontein teruggekeer voordat sy aan die skryf geraak het.
Na aanleiding van die Reitz-voorval vra Bryson die vraag of Suid-Afrikaners sedert 1994 beduidend verander het, en of swart en wit steeds deur rasse-stereotipes gevange gehou word.
Terwyl verandering oral in Suid-Afrika aan die gang was, was die verwelkoming van swart studente aan die UV en sy koshuise in die middel 1990’s egter ’n koue werklikheid. Swart en wit studente het oor die geringste geskil, soos om rugby of sokker op TV te kyk, koppe gestamp.
Onder die swart studente was daar ANC-guerrillas, tog was daar jong wit studente wat met hulle gepraat het asof hulle arbeiders op hul ouers se plase was.
Bryson beskryf die weerstand teen verandering in besonderse detail. Sy het onderhoude gevoer met oudleiers by die UV – van die oudrektor Stef Coetzee, wat vir die eerste keer oor die geskiedenis van die ANC in ’n Britse universiteitsbiblioteek gelees het, tot by Benito Khotseng, wat die impak van sy invloed ontdek het toe hy ’n voormalige student op Heathrow raakloop. Sy praat ook met die huidige rektor en visekanselier, prof. Jonathan Jansen.
Een van die Indiër-professors met wie sy ’n onderhoud gevoer het, het aangedui hoe bekommerd sy pa was toe hy by die UV aangestel is. Die professor se pa het onthou van die tyd toe Indiërs verbied is om in die Vrystaat te oornag.
Onderhoude is ook gevoer met Engelssprekende wit studente aan die UV, asook swart studente uit verskillende taal- en geografiese agtergronde.
Van die anekdotes sluit in verhale wat gaan oor die gewelddadige botsings tussen wit en swart koshuisinwoners op die kampus.
In 1996 is swart studente in ’n koshuis genaamd D.F. Malherbe aangerand. Studente van die Kiepersol-koshuis wou hulle gaan red. Wit studente, sowat 140 van hulle was gewapen met krieketkolwe en party selfs met vuurwapens. Ondersteuners van buite die kampus het met karre kom help. Die swart studente het getoi-toi en die wit studente het “Die Stem” gesing. Toe hulle die toenemende getal wit studente sien is die swart studente uiteindelik oorgehaal om terug te keer Kiepersol toe.
Soos hulle teruggehardloop het, is die ruite van geparkeerde motors uitgeslaan – motors wat ’n simbool was van wit bevoorregting. Die wit studente het hulle agtervolg, klippe gegooi en elke ruit in die gebou gebreek.
En in 1997 het wit studente ’n lakseermiddel in swart studente se toebroodjies geplaas om hulle ’n les te leer oor die groot porsies waaraan hulle hulself gehelp het.
Verskeie studente moes hospitaal toe.
Die volgende dag het die swart studente wraak geneem. Twee petrolbomme is na wagte by die universiteitshek gegooi. Toi-toiende swart studente het wit studente uit ’n eksamenlokaal gejaag.
Bryson skryf die gebrek aan harmonie kan deels toegeskryf word aan die feit dat wit studente van hul ouers se plase gekom het waar hulle slegs blootgestel is aan swart mense as werknemers. Op universiteit moes hulle swart studente as gelykes aanvaar. Die universiteit het aanvanklik min gedoen om hulle te help.
Daar was ’n gevoel onder die administrasie en selfs onder professore dat dit hul kampus is. Hulle was die hoofskeppers van die kultuur en het dit so aan die studente oorgedra.
Jansen, die eerste swart rektor van die UV, het ’n spesiale oorsese studieprogram, bekend as F1 (vir eerstejaars) ingestel. Dit is ook bekend as “leierskap vir verandering”. Van dié studente kon universiteite soos die Texas A&M-universiteit (Tamu) besoek, ’n universiteit wat soortgelyke probleme ervaar het. Bryson se verhaal neem haar saam met studente na Tamu en ander plekke in Amerika.
Die studente wat as deel van die F1-program oorsee gereis het, het ontdek hoeveel hulle gemeen het met ander Suid-Afrikaners as hulle weg van die huis is. Hulle het waardevolle lesse teruggebring wat hulle met die universiteit kon deel.
Dit is ’n verhaal van weerstand teen verandering, ingryping en geleidelike verandering wat aangehelp is deur die ervarings en nuwe insigte van studente in die groter, wye wêreld: een van hoop.
Die skrywer kom tot die gevolgtrekking te veel mense dink steeds aan die UV as ’n Afrikaner-enklave. Eerder, soos die res van Suid-Afrika, behoort die UV aan almal wat daar woon. Die samevoeging van mense uit verskillende kulture is nie maklik nie. Die wantroue en vrees vir die verlede is altyd soos ’n spook teenwoordig, en die verlede kan nie uitgewis word nie.
Tog beweeg baie Suid-Afrikaners uit hul gemaksones “en dit verg moed”.
It’s a Black White Thing het onlangs die kortlys gehaal vir City Press/Tafelberg se nie-fiksie-prys.
Jacob Rooi is ’n senior politieke skrywer by Rapport.
* It’s a Black White Thing deur Donna Bryson word uitgegee deur Tafelberg.