Share

In Engels in 2013 so puik as in Afrikaans in 2005

In Love’s Placedeur Etienne van Heerden. Uitgewer: Penguin. Prys: R165. Resensent: Izak de Vries.

In Love’s Place is die vertaling van Etienne van Heerden se In stede van die liefde wat in 2005 verskyn het. Leon de Kock het die vertaalwerk gedoen.

Destyds, by die lees van die Afrikaans, is ’n mate van ontreddering beleef. Christian, die hoofkarakter, uber-cool kunshandelaar en voormalige kampioen­atleet, se onvermoë om rus en berusting te vind, was na aan die been. Die sensitiewe middelklas wat graag ook Afrika as deel van Suid-Afrika wil beleef, word ongelukkig gou ontnugter oor sommige goed wat buite ons hoë mure gebeur.

Armoede is nie mooi nie en die materialistiese samelewing se soeke na eie gewin nog minder. “Met sy geeks baklei Christian, ridder van die utopiese web, oor die groot stryd tussen inhoud en sakegerigte interaktiwiteit.” Of, nou in die Engels: “Christian, like a knight of the utopian web, argues with his geeks about the great battle between content and business-orientated interactivity.”

Daar is verskeie redes waarom hierdie sin in albei tale geplaas is. Dit vertel iets van ’n storie wat in 2013 steeds so relevant is as wat dit in 2005 was – vra maar enige inhoudsbestuurder – en dit wys hoe subtiel De Kock die sinskonstruksies herverpak om Van Heerden se teks vlot te laat lees.

Ook die gebruik van die teenwoordige tyd in De Kock se vertaling val op.

In Afrikaans skryf ons as ’n reël in die (historiese) teenwoordige tyd om die het ge-konstruksies te vermy. Dit is selde dat ’n Engelse teks in die teenwoordige tyd vertel word – en meestal misluk vertalings klaaglik as mindere geeste Afrikaans na Engels probeer transponeer in die teenwoordige tyd. In De Kock se hande is die teks veilig, hoewel daar iets van die Afrikaans teenwoordig is in die onmiddellikheid van die presens. ’n Versigtige vergelyking tussen die twee tekste toon subtiele verskille, maar ook dat die neweteks behoue bly.

Die klemverskuiwing in die titel het egter opgeval. In die Afrikaans is dit In stede van die liefde, en nie “In plaas van die liefde” nie. Stede is ’n belangrike motief in hierdie teks.

Christian soek gedurig die energie van verskeie wêreldstede op; aan die een kant is dit om sy sakebelange uit te bou, aan die ander kant is dit deel van sy futiele soeke na innerlike aanvaarding. In hierdie stede vind Christian vroue wat soms, kortstondig, erotiese liefde beloof, terwyl dit eintlik in die klein dorpies, weg van die stad is, waar Christian soek na maniere om sy gesin, sy ware liefde, aanmekaar te hou.

In stede daarvan werp die besoeke aan die kleiner plekkies telkens uitdagings voor Christian se voete.

In Love’s Place lê ’n duideliker klem op die ruimte, enige ruimte, waar die liefde verplaas word, en skep ’n vreemde, gelykmakende gevoel. Michiel Heyns het, tydens ’n gesprek met Van Heerden, opgelet dat Matjiesfontein ’n Repos ailleurs-gevoel te weeg bring, die jaende stedelinge kom hierheen vir rus, die plaaslike inwoners ken die verskrikking van kleindorpse armoede en wens hulle kon in die blink motors klim om elders ’n heenkome te vind.

De Kock vertaal die plattelandse Afrikaans met ’n baie fyn oor. Volgens Van Heerden was ook sy agent, Isobel Dixen, wat self ’n Karookind is, betrokke by die nagaan van die plattelandse Engels.

Die formele, soms argaïese Afrikaans van Piet Windvogel gaan nie verlore wanneer hy sy Snaartjie vastrap oor haar vioollesse nie: “Saar, that little guitar has been sent to us, a great gift, for our pigeons. It’s Providence.”

Waarop die dogter antwoord: “Ja, Pa.”

En dan hierdie mooi sin: “He feels her heart jumping, like a wagtail on the ground, skip-skip.”

Wanneer ’n heruitgawe verskyn, of ’n getroue vertaling, kan die leser vra: Is die teks steeds relevant? In Love’s Place is. Christian, wat steeds weghardloop van ’n leuen omtrent sy atletiekloopbaan, se wroeging is vandag nog geldig; sy soeke na eiewaarde en aanvaarding, sy stryd met bendes, dwelms en die geweld van armoede, alles bly pynlik nóú.

Ook die struwelinge binne die dot.com-wêreld en die meegaande kopstamp met ’n jonger geslag, is so vars soos toe dit in Afrikaans uitgegee is.

Dit is prysenswaardig dat groot Afrikaanse tekste in vertaling beskikbaar is. Klimtol, Van Heerden se splinternuwe roman, het ook pas verskyn. Snaartjie Windvogel, die rustelose heldin, dog byspeler, van In stede van die liefde, kry ’n hoofrol in Klimtol. Sy kon nie weghardloop van haar verlede nie. Terwyl ons Engelssprekende landgenote Snaartjie se komvandaan onder die knie kry, mag ons die goëlwerk van Etienne se handewerk, en Snaartjie se nuwe reis, in ons eie taal geniet.

Izak de Vries is ’n onafhanklike uitgewerskonsultant.

* In Love’s Place is beskikbaar by www.kalahari.co, R216,47. Kliek hier om die boek te bestel.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
33% - 153 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
67% - 315 votes
Vote
Rand - Dollar
19.17
-0.0%
Rand - Pound
23.85
-0.1%
Rand - Euro
20.41
-0.1%
Rand - Aus dollar
12.30
-0.0%
Rand - Yen
0.12
-0.2%
Platinum
955.20
+0.5%
Palladium
1,032.00
+0.2%
Gold
2,391.33
+0.5%
Silver
28.49
+0.9%
Brent Crude
87.11
-0.2%
Top 40
66,986
-0.3%
All Share
73,059
-0.3%
Resource 10
63,250
-0.1%
Industrial 25
98,073
-0.4%
Financial 15
15,432
-0.3%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE