Die Bom deur Nic von Wielligh en Lydia von Wielligh-Steyn. Uitgewer: Litera-publikasies. Prys: R395.
Op 22 September 1979 registreer die Amerikaanse Vela-satelliet, spesiaal geformuleer om kernontploffings op te spoor, ’n voorval in die Indiese Oseaan naby Suid-Afrika se Prins Edward-eiland. Die dubbelflits wat waargeneem is, het gedui op ’n waarskynlike ontploffing van ’n atoombom van sowat drie kiloton en het ’n behoorlike geskarrel in Amerikaanse intelligensie-geledere veroorsaak, ten spyte van ’n gebrek aan radio-aktiewe neerslae in die atmosfeer en ander tekenende getuienis van ’n kernontploffing.
Die kollig het dadelik op Suid-Afrika geval, gegewe dat dit in Suid-Afrikaanse gebiedswaters plaasgevind het en gerugte van ’n kernwapenprogram toe reeds geruime tyd in omloop was. Mettertyd is Israel ook verdink – alleen of in samewerking met Suid-Afrika. Weldra het ’n paneel van uitgelese wetenskaplikes, deur die Carter-regering aangestel om die voorval te ondersoek, bevind dat dit waarskynlik nie ’n kernontploffing was nie, hoewel “die moontlikheid nie uitgesluit kon word nie” (p. 156).
Hulle het die voorval onder meer toegeskryf aan ’n meteoriet wat die satelliet getref het. Die CIA, wat eers in Junie 2004 ’n geheime verslag met swaar maskering uitgereik het, het egter tot hul eie gevolgtrekking gekom: dat dit wel ’n ontploffing van ’n kerntoestel van minder as drie kiloton was, in ’n groot gebied en in bewolkte weer.
Die sogenaamde Vela-voorval was nie die enigste wat konsternasie in die internasionale gemeenskap veroorsaak het nie. ’n Ander was die Kalahari-voorval in 1977. Op Sondagmiddag 14 Augustus 1977 het ’n ongemerkte ligte vliegtuig laag oor ’n afgesonderde terrein genaamd Vastrap gevlieg waar die weermag ’n militêre toetsterrein gevestig het as kamoeflering vir toetse deur die Raad op Atoomkrag. Die raad was van plan om ’n “koue” kerntoets op die terrein uit te voer.
Die terrein, met sy twee kerntoetsskagte van onderskeidelik 391 m en 216 m diep, was bykans voltooi toe die vliegtuig sy opwagting maak. Dit was duidelik dat inligting oor die terrein uitgelap is. Boere in die Kalahari het weliswaar toe reeds geruime tyd gesels oor die “atoomgate” – en iemand wou klaarblyklik verdere ondersoek instel.
Party bronne verwys na sowel Sowjet- as Amerikaanse satelliete wat oor die terrein beweeg en verdagte bedrywighede opgemerk het. Waaroor die meeste bronne saamstem, is dat die Sowjetunie daarvan bewus geword en die Amerikaners ingelig het wat weer ’n ongemerkte vliegtuig oor die terrein gestuur het.
Maar hoe het die Sowjetunie in die eerste plek geweet waar om te kyk?
In ’n gesprek wat ek met die voormalige vlootkommodoor en Sowjet-spioen Dieter Gerhardt gehad het, het hy genoem hy het die gerugte gehoor in sy amptelike hoedanigheid as vlootskakeloffisier van Krygkor. Hy het besluit om die omgewing te besoek, maar aangesien hy geen amptelike rede sou kon gee om Vastrap self te besoek nie, het hy in siviele drag in die kroeë in Upington en omgewing gaan sit en luister hoe veral moeë konstruksiewerkers die bedrywighede by Vastrap bespreek. In Die Bom skryf die outeurs ook oor Gerhardt en die waarskynlikheid dat hy die Sowjetunie ingelig het wat die Amerikaners ingelig het.
Hoe die vurk ook al in die hef steek, uiteindelik het die ontdekking van die kerntoetsterrein tot hewige diplomatieke druk deur die Carter-regering in die VSA, die Sowjetunie en selfs Frankryk en Brittanje gelei.
Bogenoemde voorvalle is maar twee in ’n kleurryke verhaal van Suid-Afrika se kernontwikkeling wat in ’n lywige boek van 525 bladsye deur Nic von Wielligh en sy dogter Lydia von Wielligh-Steyn vertel word.
Ander belangrike gebeurtenisse kry ook uitgebreide aandag in ’n styl wat vir leke verstaanbaar is – soos die eerste selfonderhoudende kernkettingreaksie in Afrika – dié van die Amerikaans vervaardigde Safari-1-reaktor by Pelindaba – op 18 Maart 1965; die eerste selfonderhoudende kettingreaksie van die uniek Suid-Afrikaans ontwikkelde Pelinduna-reaktor, wat natuurlike uraan as brandstof gebruik het, op 30 November 1967; die ontwikkeling van ’n unieke uraanverrykingsproses wat in Januarie 1978 die eerste klein hoeveelheid hoogverrykte uraan geproduseer het; die bou van ses toestelle wat as kernwapens beskou kon word – met name soos Video/Melba en Hobo/Cabot; die aftakeling van hierdie toestelle tussen 1990 en Julie 1991; en die uiteindelike ondertekening van die Kernsperverdrag in Julie 1991.
Von Wielligh, ’n fisikus, se ervaring in hierdie era van Suid-Afrika se geskiedenis strek ver, veral in sy hoedanigheid as hoofwetenskaplike van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) en latere loopbaan by die Uraanverrykingskorporasie (Ukor) en die Atoomenergiekorporasie van Suid-Afrika (AEK).
Hy het ’n uiters belangrike rol gespeel in die toepassing van waarborge van die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) ná Suid-Afrika se toetrede tot die Kernsperverdrag. Sedertdien was hy ook nou betrokke by advieskomitees verbonde aan die IAEA en hy gee raad aan plaaslike staatsdepartemente oor kernkrag en waarborge.
Hy skryf nie net oor sy eie wedervaringe nie. Dit is duidelik dat wye en intensiewe navorsing gedoen is om hierdie boek so omvattend moontlik te maak, met ’n vertelling wat begin by die ontwaking van atoomenergie tot wat bedoel word met isotoopskeiding, plutonium en hoogverrykte uraan, en die status quo van kernwapens, pres. Barack Obama van Amerika se “Nuclear Zero”-droom en die Foekoesjima-ramp.
Uiteindelik lei die terugblikke na ’n vergange era ’n mens tot ’n waardering van die unieke innovasie wat in Suid-Afrika in verskeie aspekte van kernenergie aan die dag gelê is en wat in die moderne era moontlik tog weer neerslag kan vind in die soeke na ’n antwoord vir die huidige energietreurmare.
Prof. Anna-Mart van Wyk is hoof van die skool vir sosiale wetenskappe aan Monash Suid-Afrika en ereprofessor aan die skool vir historiese, filosofiese en internasionale studie aan die Monash-Universiteit.