Share

Kragtige debuut gryp aan die hart

Casey B. Dolan wou verbeter op ‘50 Shades of Grey’. Die resultaat is nie ’n erotiese roman nie, maar een waarin  komplekse verbintenisse tussen karakters met groot gemak en deernis gehanteer word, skryf Madri Victor.

When the Bough Breaks deur Casey B. Dolan. Uitgewer: Kwela. Prys: R195. Resensent: Madri Victor
* Die boek kan hier bestel word.

Dit is moeilik om te glo dat Casey B. Dolan se debuutroman, When the Bough Breaks, ontstaan het nadat sy 50 Shades of Grey gelees het en daarop wou verbeter. (Haar outobiografie, An Appetite for Peas, het in 2013 verskyn.)

Die idee was om ’n erotiese roman te skryf, maar die verhaal het volgens Dolan sigself vinnig in ’n heel ander rigting begin inskryf. Behalwe ’n sterk erotiese toneel of twee kan die eindresultaat beslis nie as ’n erotiese roman geklassifiseer word nie, en stilisties, tematies en tegnies is dit beslis baie beter as 50 Shades of Grey.

When the Bough Breaks vertel die verhaal van Amber Whittington-Jones, wat as jong Suid-Afrikaner van haar omstandighede wegvlug om die Amerikaanse droom na te jaag. In haar poging om die perfekte huweliksmaat vir haar man en ma vir haar kind te wees, verloor sy haarself.

Haar seun ervaar haar uitdrukking van liefde en toenadering as versmorend en haar man is vanweë sy werk dikwels afwesig. Haar desperate pogings om uit te druk wie sy werklik is, faal telkens en lei tot meer frustrasie en uiteindelik depressie – iets waarvoor haar man hulpeloos staan en haar seun geen begrip het nie.

Van die uitgesproke jong meisie wat haar eie sterk idees en ideale gehad het, is daar niks oor nie.

Amber se Amerikaanse droom word iets wat haar versmoor. Dan merk haar seun se beste vriend ná ’n rusie tussen die volwassenes op: “You’ve been tired for a long time, Mrs Jones.” Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd is daar iemand wat Amber raaksien. Joshua se sensitiewe opmerking is die vonk vir ’n reeks gebeure wat uiteindelik soos ’n verwoestende brand alles in sy pad sal verteer en dié “perfekte gesin” tot as reduseer.

Wanneer Amber uitvind dat sy besig is om aan kanker te sterf, skryf sy haar verhaal neer in ’n poging om haar keuses en die gebeure wat dit tot gevolg het, te verduidelik. Die leser spring tussen Amber se dagboekagtige teks en die getranskribeerde sielkundige sessies van Wade, Amber se man, Tyler, haar seun, en Joshua.

Die ongewone, verfrissende aanbieding sorg dat spanning baie vernuftig opgebou word: Uit die gesin se gedwonge sessies met dr. Felicity Sloane lei die leser vinnig af dat verbintenisse binne dié gesin ambivalent is, en die omstandighede rondom Amber se dood twyfelagtig.

Om groot gedeeltes van ’n verhaal slegs deur dialoog te vertel, sit nie in enige skrywer se broek nie. Dolan hanteer dialoog meesterlik; sy gebruik dit soepel, speels, evokatief, en belig fyn nuanses en emosioneel gelade oomblikke. Sy teken veel in wat ongesê bly of frustrasie by die spreker ontlok.

Elke lid van die gesin se stem open ’n interne gevoelswêreld vir die leser en fokus die aandag op ’n ander kant van die tragedie.

Die gebeure ontvou soos ’n ingewikkelde legkaart waarvan die presiese aard jou telkens ontglip: Dit wil soms voor die hand liggend lyk, maar “skuld” en “blaam” is nie maklik toe te reken nie en daar is ’n fyn lyn tussen begrip en afsku.

In die proses leer ken die leser karakters wat genuanseerd en kompleks is en gevolglik sterk emosies wek: Jy ry wipplank tussen begrip, simpatie, ongeloof, afsku, woede en empatie. Dolan hanteer ’n sensitiewe tema en die komplekse verbintenisse tussen karakters met groot gemak en deernis; ek het die verhaal aangrypend gevind.

G’n wonder nie dat When the Bough Breaks so vinnig deur oorsese uitgewers opgeraap en reeds in Frans en Spaans vertaal is. Haar tweede roman verskyn volgende jaar en sy is tans besig met haar vierde manuskrip. Casey B. Dolan is ’n outeur om mee rekening te hou.

Madri Victor is ’n manuskripontwikkelaar en voormalige fiksieredakteur.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
67% - 2 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
33% - 1 votes
Vote
Rand - Dollar
19.15
-0.7%
Rand - Pound
23.82
-0.6%
Rand - Euro
20.39
-0.5%
Rand - Aus dollar
12.30
-0.5%
Rand - Yen
0.12
-0.6%
Platinum
950.40
-0.3%
Palladium
1,028.50
-0.6%
Gold
2,378.37
+0.7%
Silver
28.25
+0.1%
Brent-ruolie
87.29
-3.1%
Top 40
67,190
+0.4%
All Share
73,271
+0.4%
Resource 10
63,297
-0.1%
Industrial 25
98,419
+0.6%
Financial 15
15,480
+0.6%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE