Share

Leser se strydvraag: Vergeef of verdoem?

Die twee lewens van Dieter Ondracek deur André Krüger. Uitgewer: ­Human & Rousseau. Prys: R185

Tot 20 000 spoorwegwerkers in Nazi-Duitsland het geweet hulle pleeg massamoord en is nooit vervolg nie.

In Die twee lewens van Dieter Ondracek ontmoet ons een: die ingenieur Dieter Ondracek. Treine is sy passie. Ons volg sy vordering tot die een wat die treine laat loop na die konsentrasiekampe. Ons volg sy opgang, sy val, sy vernedering en sy hervestiging as Nazi-vlugteling in Suid-Afrika waar hy skuil van sy verlede, en van Simon Wiesen­thal, die Nazi-jagter.

Ons kan sien waarheen die boek mik: aandadigheid, skuld, verlossing.

Ondracek word uitgemaak as slagoffer van omstandighede. Die groot agtergrond van die oorlog beheer absoluut sy lewe.

Is dit hy wat so dink, of die skrywer?

Dat ek vroeg begin wonder het oor die skrywer is vir my ’n swakheid van die boek. Word Ondracek aangekla, of moet ons jammer voel vir hom; met hom identifiseer?

Ek is eerlikwaar nie seker nie.

Ondracek is ’n lafaard. Die wêreld gebeur met hóm; hy doen niks. Hy is (eers) passief aandadig aan volksmoord: Dit resoneer dalk nog met gewone Afrikaners. Wie is skuldig as almal meegedoen het?

Dan betree Ondracek ’n ander vlak: Hy gee die bevele. Hy verlaat die grys-area en die ooreenkoms (vir gewone mense) met apartheid stort ineen. Die vraag: Hoe aandadig is ons almal? word: Hoe aandadig is die bevelvoerder? En dis duidelik: Heeltemal.

Ek sê nie elkeen wat deel van die geweldmasjienerie was kon soos ’n engeltjie heldhaftig en edel alles stopgesit het nie. Daar is monsters in mense en mense in monsters en om dié dualiteit te ontken lei tot fanatisisme. Maar dié boek laat my ongemaklik voel oor wat dit sê oor die aanspreeklikheid wat jy wel het in jou besluit oor wat jy met daai monster gaan doen.

Gebeure en gedagtes word verduidelik met eindelose ekspo­sisie, eerder as gedramatiseer, in wat voel soos ’n essay oor determinisme wat ons nie as deelnemers betrek nie.

Benewens ’n paar aksietonele is die boek soos die opsomming wat ’n skrywer maak vóórdat hy die moeilike taak van skrýf aanpak.

Die min kere wat Ondracek tot aksie oorgaan, beweeg die storie lekker, net om weer in eksposisie te sink.

Dis nuttig dat die boek sy temas uitstippel: Net toe ek begin dink dis ’n konflik tussen argetipes, sê die boek in soveel woorde dis ’n “konflik tussen argetipes”.

Die vernaamste argetipe wat onrus baar, is die femme fatale. Ondracek raak verlief op ’n vrou genaamd Sabine. Hy wroeg oor hoekom sy van hom hou. Hy is heeltyd op soek na koestering en verlossing en dink hy gaan dit by ’n vrou kry. Hy, en die leser, raai gou dinge is te goed om waar te wees. Sy reaksie is dankbaarheid en verafgoding; die leser wag vir die train smash.

’n Karikatuur soos Sabine kan net op verraad dui. Dis wat ­femmes fatales doen. Sy kry die skuld vir al Ondracek se dade.

Haar skynbaar oorweldigende aangetrokkenheid tot walglike mans (sy kan haarself nie help nie) het ’n sweem van vrouehaat. Weer wonder ek of dit die skrywer of Ondracek is wat dit so sien.

(As Ondracek so laakbaar is, hoekom hóm gebruik as ’n voertuig vir verlossing? Hoe ook al, dit breek die fiksie.)

Wat Krüger regkry, is om te skets, in te kleur en die sintuie te betrek.

Die detail van Berlyn en die stad se verval gedurende die oorlog, van treine en meganika, van Melville (waar Ondracek in Suid-Afrika bly) in die 1950’s, van Johannesburg en die straatlewe van die tyd, is solied en die roet pak in jou neus saam. Dié eye can­dy trek jou, soos broodkrummels, deur die lang tye waar die skaakstukke een vir een reggeskuif word.

Nick Cave (en ek glo Krüger ken sy musiek) sing van ’n “microscopic cog in his catastrophic plan”, en dis wat Ondracek gemaak word, enduit.

Hy hou aan met neul oor sy skuld (volpunte aan hom) én hy blameer Sabine. Wat nou? Skuldig? Of “slagoffer van onpeilbare magte wat hom meegesleur het”? J’accuse of j’excuse?

Onsekerheid kan doeltreffend wees om ’n karakter realisties te maak, maar dubbelsinnigheid is steurend as dit die skrywer besluiteloos laat voorkom. Ek vermoed mens moet van Dieter Ondracek hou, maar gemeet aan sy dade – en nie aan die meerendeels positiewe lig wat op hom val nie – kan ek nie anders as om hom te verdoem nie.

Jy kan sê: Die skrywer verdoem hom óók! Dan los dít die vraag: Hoekom het Krüger dit nodig geag om my ’n hele boek lank te probeer oortuig Ondracek is ’n slagoffer?

Een wat uiteindelik, toe alle struikelblokke uit die weg geruim is, stééds nie agentskap kan neem en met die waarheid vorendag kan kom nie.

’n Onbevredigende betoog.

Marius Visser is ’n redaksielid van Media24.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
32% - 419 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
68% - 885 votes
Vote
Rand - Dollar
19.07
+0.5%
Rand - Pound
23.60
+1.0%
Rand - Euro
20.32
+0.3%
Rand - Aus dollar
12.24
+0.5%
Rand - Yen
0.12
+0.4%
Platinum
943.20
-0.8%
Palladium
1,035.50
+0.6%
Gold
2,388.72
+0.4%
Silver
28.63
+1.4%
Brent Crude
87.11
-0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE