Dis met ’n ompad dat die kinderboekskrywer Marga Jonker aan die skryf gekom het oor een van haar groot liefdes, perde. Nadat sy op 27 gehoor het haar perd Bokveld is dood aan raaigrasvergiftiging, het sy nooit weer perdgery nie. Eers ná ’n skryfkursus meer as ’n dekade later het sy weer op ’n perd geklim.
Sy wou van kleins af skryf, maar het eers in haar veertigs genoeg moed bymekaargeskraap om haar werk in Afrikaans aan uitgewers voor te lê. Marga is medeskrywer van drie Xhosa-kinderboeke wat in die 1990’s verskyn het. Haar boek Wat is jy, Kartoffel? is bekroon en Sonder Chocolate Charlie en Brigadier en die raaiselponie is topverkopers. Haar volgende jeugroman verskyn in November by Tafelberg. “Lesers kan uitsien na perde en die Weskus, ritte langs die see en ’n bietjie romanse.”
Haar skryfwerk in Afrikaans het ná ’n skryfkursus in 2009 vlamgevat, toe sy besef al haar stories gaan oor die plaas en perde. Sy het toe besluit om perdestories te skryf “wat iets nuuts en anders aan lesers bied”.
Om seker te maak sy skryf opreg en getrou, het Jonker die eerste keer in jare begin perdry. Sy het ook betrokke geraak by perdeterapie.
“Die emosionele band tussen mens en perd is sterk, en perde word baie suksesvol gebruik in terapie met mense. Perdry is lankal nie meer net ’n rykmansport nie.”
Jonker gesels geesdriftig ná ’n e-boek-leesperiode by die Durbanville-voorbereidingskool, waar sy ’n paar dae per week Xhosa gee.
Sy het aan die Weskus op ’n plaas tussen Paternoster en Stompneusbaai grootgeword waar stories en perde deel was van die plaas.
Oor die gewildheid van haar perdeboeke sê Jonker: “Mense het ’n behoefte om oor perde te lees. Dis soos Winston Churchill gesê het: ‘There is something about the outside of a horse that is good for the inside of a man.’ ”
Oor haar skryfgeheim sê sy: “Ek het geen idee hoe ek dit ‘regkry’ nie. Ek probeer net om alles wat in my kop gebeur met diep respek en ontsag vir perde eerlik oor te dra. Ek probeer ook nie uit die oogpunt van die perd skryf nie, maar beskryf eerder ’n dag in die lewe van ’n perd.”
Haar stories word gekenmerk deur feitelike juistheid en treffende dialoog, en sy kry gereeld kommentaar soos dié van jong lesers: “Toe ek begin lees het, het ek gedink ‘nog ’n perdestorie’, maar dié storie het my verras. Tannie ken Tannie se perde baie goed!”
Hoe kom sy aan haar stories? “Ek grond dit altyd op ’n perd wat regtig bestaan. Die perd Brigadoor, waarop Brigadier en die raaiselponie gegrond is, was ’n baie gewilde perd aan die Weskus.”
Jonker lees baie oor die sielkunde van die mens om elke karakter so eerlik as moontlik te laat ontwikkel. “As ek egter nie seker is of ’n toneel of stuk dialoog eg klink nie, vra ek my kinders wat hulle dink.”
Komplekse gesinsdinamikas bied ’n platform van waar moeilike kwessies en lewensvrae aangeraak word. Dis nie ’n doelbewuste keuse nie, maar ’n voortsetting van wat sy om haar sien. Met die skryf van Brigadier en die raaiselponie was kwessies oor egskeiding vir haar prominent.
“Ek dink geskeide gesinne se ma’s is te kwaai met die pa’s. Kinders kyk anders na hul pa’s en ek wou ’n platform gee vir kinders waar hulle ‘toestemming’ het om oor hul ouers te dink soos hulle wil. In dié verhaal is daar twee susters wat baie verskil en wat moes besef hulle kan mekaar nie verander nie. In ’n groot mate gaan die storie oor mense wat nie van konflik hou nie. Maar ek wil nie ’n les gee nie!”
Jonker het drie kinders waarvan een, Hardus, lokprente vir haar boeke maak wat hy op YouTube plaas.
Mia Oosthuizen is ’n vryskutresensent. Sy is besig met haar doktorsgraad in kinder- en jeugliteratuur.